Deur Marli Naidoo
Nie almal geniet dit om in 'n kantoor te werk nie. Sommige mense vind praktiese loopbane veel meer vervullend en is aangelê om tegniese of meganiese probleme op te los. Hierdie mense vaar goed as ambagsmanne (of -vroue, aangesien al hoe meer van die skoner geslag in hierdie veld floreer). In Suid-Afrika is daar 'n tekort aan vaardige ambagslui, wat die regering aanmoedig om hierdie velde in sterk te ondersteun.
Daar bestaan meer as 'n 100 ambagte. Die ambagsvaardighede wat egter die hoogste in aanvraag is, gee belangstellendes goeie en 'n verskeidenheid opsies om van te kies:
'n Meulmaker fokus op die herstel en installering van meganiese masjinerie en toerusting wat elektries aangedryf of beheer word. Hy kan werk aan laers, ratkaste, remstelsels, pompstelsels en hidroulika.
Gereedskapmakers gebruik hulle oog vir fyner besonderhede om gereedskap vir spesifieke doeleindes te vervaardig.
'n Ketelmaker is verantwoordelik vir die bou en instandhouding van klipbrekers, grondverskuiwings-masjiene en vragmotorbakke.
'n Passer-en-draaier is verantwoordelik vir die bestudering van bloudrukke, planne en tekeninge om dele van masjiene te kan konstrueer, monteer, vervaardig en te installeer. Hy is ook verantwoordelik vir die instandhouding en herstel van verskillende soorte masjinerie.
'n Skrynwerker is iemand ('n tipe timmerman) wat houtvoorwerpe wat in huise gebruik word, bou, monteer, installeer en herstel.
Sweisers gebruik verskillende sweistegnieke om metaal te las.
Loodgieters is verantwoordelik vir die herstel en installering van waterpype, werk met pype wat afval van jou huis of besigheid afvoer, en hulle kan ook die nodige toebehore installeer.
Motorwerktuigkundiges werk met alle dele van petrolaangedrewe voertuie, en kan dele vervang, herstel, en diens.
'n Takelaar is verantwoordelik vir die verskuiwing van swaar voorwerpe deur byvoorbeeld 'n hyskraan te gebruik.
Instrumenttechnici inspekteer, toets, herstel en verstel instrumente wat veranderinge in industriële omgewings opspoor, meet en opneem.
Lugversorging en yskasherstel is ook ambagte waar meer ambagslui nodig is.
'n Dieselwerktuigkundige is verantwoordelik vir die voorkomende instandhouding en herstel van dieselenjins en voertuie, wat passasiersvoertuie, groot vragmotors, busse en swaar masjinerie soos hyskrane, trekkers en padskrapers insluit.
'n Elektrisiën kan enkel- en driefase-elektrisiteit in industriële en huishoudelike omgewings installeer. Hulle kan ook in 'n elektronika- of PLC-programmeringsrigting spesialiseer.
Opgeleide ambagslui kan hulleself ook as instrukteurs, toesighouers of inspekteurs bekwaam. Hulle kan vir groot organisasies of as privaat kontrakteurs werk.
Bronne
Skillsportal: https://www.skillsportal.co.za/content/exploring-careers-skilled-trades
Sol-Tech: https://sol-tech.co.za/verskillende-ambagte-en-die-beroepe-wat-jy-kan-volg-daarin/
Careers in Construction: https://www.careersinconstruction.ca/en/career/sheet-metal-worker#:~:text=Sheet%20metal%20workers%20fabricate%2C%20assemble,they%20can%20be%20self%2Demployed.
Foto krediet: OkayDeer