Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het sy veldtog teen skole met effektiewe beheerliggame (en ouers!) voortgesit nadat hy 'n hofloesing in die Overvaal-saak gekry het. Sy voorgestelde wysigings aan die toelatingsregulasies van leerlinge by Gautengse skole is op 30 Julie in die Staatskoerant gepubliseer en is bloot sy manier om die Overvaal-uitspraak te omseil en sy transformasieagenda verder te voer.
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS), Solidariteit en AfriForum beplan om duisende bekommerde ouers, onderwysers en lede van die publiek te mobiliseer om vóór 14 September 2018 hul kommentaar téén die regulasies in te dien.
Wat sal die gevolg wees indien dié regulasies ingestel word?
Ouers sal nie meer kan kies in watter skool hulle hul kinders wil plaas nie. Ná die aanlyn-aansoekproses sal die LUR vir onderwys (Lesufi) alleen kan besluit watter kind in watter skool sal wees.
Skole sal nie meer kan aandui hoeveel kinders hulle kan akkommodeer nie. Die LUR vir onderwys (Lesufi) gaan skole inlig hoeveel kinders ingeneem moet word. Beheerliggame kon voorheen die kapasiteit bepaal en daarvolgens werk, maar die nuwe regulasies stel Lesufi in staat om skole te dwing om leerlinge in te neem, ongeag of daar kapasiteit is of nie.
Skole sal nie meer hul taalbeleid kan toepas nie. Omdat die LUR vir onderwys (Lesufi) leerders eensydig in skole plaas, word skole se taalbeleide in geheel verontagsaam. In praktyk sal alle skole dan uiteindelik enkelmediumskole met Engels as onderrigtaal word. Beheerliggame se besluitnemingsmag oor skole se taalbeleid word hierdeur effektiewelik weggeneem.
LEWER KOMMENTAAR EN HELP ONS OM LESUFI TE STUIT
Voltooi jou besonderhede volledig en merk watter van die ondergenoemde kommentaar jy graag wil instuur.
Ons sal die kommentaar aan die amptelike forum wat die kommentare ontvang stuur.
Slegs u naam en van sal onderaan die korrespondensie verskyn.
Indien litigasie in die toekoms noodsaaklik word, sal Solidariteit u kommentaar by die hofstukke insluit.
Solidariteit sal u kontak om terugvoer te gee oor die proses en aksies wat ons onderneem in hierdie belangrike saak.