Deur Reon Janse van Rensburg
Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het Covid-19 gelei tot vele onderhandelingsprosesse oor gesondheid- en veiligheidsprotokolle asook die verandering van werknemers se diensvoorwaardes by byna alle medium- en groot werkgewers.
Hy noem dat onderhandelinge oor die hantering van kwesbare werknemers wat weens onderliggende siektes en logistieke uitdagings nie kan werk nie daarop gevolg het. Nog ’n gevolg is afleggingskonsultasies waar poste weens Covid-19 ingeboet is en vorige kollektiewe-bedingingsooreenkomste wat hersien is.
Volgens Du Plessis is hierdie onderhandelinge vir beide werknemers en werkgewers ingewikkeld en is daar in die proses opgemerk dat daar foutlyne in die arbeidsverhoudingstelsel is.
Van hierdie foutlyne sluit in regulatoriese uitbuiting, sommige vakbonde wat nie die realiteit van die huidige omstandighede raaksien nie, die “kapitalistiese elite” foutlyn en drakoniese rampbestuurregulasies.
Regulatoriese uitbuiting
Volgens Du Plessis is daar werkgewers wat regulasies oor kwesbare werknemers misbruik om hul arbeidsmag te verklein. Hy noem omdat afleggingsprosesse omslagtig en duur is, het heelwat werkgewers hulle eerder daarvoor beywer om kwesbare werknemers uit diens te stel om hul werknemers se lewe te beskerm.
Hy voer aan dat daar egter wel werkgewers is wat die moeisame afleggingsroete volg en Covid-19 toeskryf as die rede vir personeelvermindering.
“Die impak van Covid-19 en noodsaak vir afleggings kan nie ontken word nie, maar die pandemie word dikwels misbruik om bedryfskoste te besnoei.” – Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit
Du Plessis verduidelik dat ’n goeie voorbeeld hiervan is waar hy onlangs betrokke was by ’n afleggingsproses by ’n maatskappy wat met chemiese stowwe werk, wat aangevoer het dat 28% van die maatskappy se arbeidsmag om Covid-19 verwante redes besnoei moes word. Die afleggingskennisgewing is egter teruggetrek toe Solidariteit vir bewyse vra.
Vakbonde
Volgens Du Plessis besef sommige vakbonde nie die broosheid van die ekonomie en redes vir kostebesnoeiing om die volhoubaarheid van ’n werkgewer te kan verseker nie. Hy skryf dit toe aan ’n uitgediende ideologie en dat eiebelang die dryfveer vir ’n populistiese vakbond is wie se besluite eers sal verander wanneer die werklikheidsbesef oor die huidige omstandighede intree.
“Afleggings het ’n sloereffek en sodra die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) se laaste Covid-19-TERS-voordeel uitbetaal is en werkgewers noodgedwonge die herskikking van bedrywighede begin deur bedryfskoste te besnoei en kapitaalprojekte te hersien, kan die damwal bars en die werk bloedbad waarna ekonomiese doemprofete so graag verwys, ’n werklikheid word.”
“Kapitalistiese elite”-foutlyn
In wat as ’n “kapitalistiese elite”-foutlyn bestempel kan word, het ’n prominente steenkoolmaatskappy waarvan die bedrywighede nooit beperk is nie, ’n 0% salarisverhogingsaanbod gemaak die dag nadat sy voortreflike halfjaarresultate bekend gemaak en ’n spesiale aandeelhouerdividend verklaar is. Volgens Du Plessis sterk sulke besluite sosialistiese vakbonde in hul agenda. Hy noem dat die maatskappy darem sy fout betyds kon agterkom.
“Dit is ook nie aanvaarbaar dat Sasol onlangs met ’n afleggingsproses begin en terselfdertyd aangekondig het dat twee vorige mede- uitvoerende hoofde, wat weens swak prestasie die trekpas gekry het, in hul laaste jaar altesame R96 miljoen in vergoeding ontvang het.”
Drakoniese rampbestuurregulasies
Volgens Du Plessis het die drakoniese rampbestuurregulasies en die verminderde ekonomiese aktiwiteit die land tot ’n krisistoestand gevoer. Hy noem dat eers toe die druk onhoubaar geword het, is die regulasies verslap, maar dat dit reeds te laat was.
Volgens Du Plessis is dit ’n uitvloeisel van die vernietigende praktyk van oorregulering van alle ekonomiese sektore wat saam met sistemiese korrupsie die grootste vyand van werkskepping is.
“Ekonomiese herstel na Covid-19 kan versnel, mits die hoofrolspelers in arbeidsverhoudinge – vakbonde, werkgewers en die regering – hul direkte aandeel aan die foutlyne besef en die kopskuif maak om dit ten goede te verander.”
Foto krediet: iStock