Die Covid-19-krisis en die gevolglike staat van inperking het die land en ekonomie op sy knieë gedwing.
Daar is miljoene mense wat baie swaar kry as gevolg van werkverlies en talle ondernemings wat hul deure moes sluit. Ons land se kunstenaars word ook hard getref deur hierdie krisis aangesien konserte, kunstefeeste en optredes gekanselleer moes word. Dit is vir die meeste kunstenaars hul grootste, en soms hul enigste, bron van inkomste.
Dapper Media, 'n inisiatief van AfriForum, het derhalwe besluit om Afrikaanse kunstenaars in hierdie moeilike tye by te staan deur 'n platform te skep waar kunstenaars hul tuiskonserte kan oplaai. Die publiek kan kaartjies vir die konserte koop en in hul eie tyd daarna kyk. Die fondse word direk aan die kunstenaars en platemaatskappy oorbetaal.
Die konserte word aanlyn gestroom en is ook op ’n slimtoestel beskikbaar.
Solidariteit het met Hennie Bierman, hoof van Solidariteit se beroepsgildes, gesels oor hul steun aan hierdie inisiatief. Die Beroepsgilde vir die Kunste het ten doel om 'n beroepsgemeenskap te wees vir akteurs, aanbieders, omroepers, sangers, dansers, kunstenaars en alle ander rolspelers binne die vermaaklikheidsbedryf.
Die gilde wil graag die behoud van Afrikaanse kuns en kultuur bevorder, mense aanmoedig om hul kreatiewe beroepe sonder vrees te beoefen, en 'n bydrae lewer tot die behoud van 'n groter gemeenskap wat trots is op die Afrikaanse geskiedenis, kultuur en kunste.
– Waarom steun die beroepsgildes Dapper Media se tuiskonserte?
“Die Beroepsgilde vir die Kunste ondersteun Dapper Media se inisiatief om hierdie tuiskonserte te hou omdat dit juis 'n geval is waar 'n beroepsgemeenskap besig is om homself in baie uitdagende tyd te red,” vertel Hennie. “Die Beroepsgilde vir die Kunste is 'n beroepsgemeenskap wat nie agteroor gesit het en toegelaat het dat 'n wêreldwye pandemie en streng regulasies wat deur die regering daargestel is, voorskryf hoe hierdie beroep geaffekteer sal word nie. Die kunstegemeenskap het hul beroep in eie hande geneem en sterker na vore gekom.”
– Wat is die Gilde se mening oor die Covid-19-pandemie en die invloed daarvan op die kunste?
Hennie sê: “Die Covid-19-pandemie en die uiters streng inperkingsregulasies wat die regering daargestel het, is sonder twyfel 'n massiewe uitdaging vir die meeste beroepe. Die meeste beroepe is baie swaar hierdeur getref, maar min beroepe is so hard getref soos die kunsteberoep. Kunstenaars in die kunsteberoep was daaraan gewoond om hulself voor groot groepe mense uit te leef waar hulle die atmosfeer kon aanvoel, die klank kon ervaar, meelewing deur gehore kon sien, en saam kon ons die kunste vier. Skielik is ons almal van mekaar geïsoleer en vermaaklikheidskunstenaars moes deur 'n skerm 'n nuwe manier van werk vind. Skielik kon kunstenaars nie meer met honderde of duisende mense in die gehoor voor hulle optree nie. Hulle kry hul energie van hul gehore, maar moet nou 'n vertoning voor slegs 'n kamera lewer. Die ongelooflike hiervan is dat kunstenaars nie in hierdie pandemie se inperkingstyd toegelaat het dat hul beroep tot niet gaan nie. Dit ís tyd om nuut te dink, en kunstenaars het met albei hande die voordeel van tegnologie aangegryp om steeds uit te reik na die mense wat hulle graag wil hoor en sien – die mense wat steeds 'n liefde vir kunste het en dit wil en kan ondersteun, en dit steeds kan geniet. Kunste is 'n groot deel van ons bestaansreg en ons kultuurerfenis, en ons kunstenaars verstaan hierdie verantwoordelikheid.”
– Waarom is die kunste as beroep belangrik en waarom moet dit beskerm word?
“Kunstenaars is belangrik omdat hulle vir ons die skoonheid maar ook die hartseer van die lewe laat ervaar en ons werklik vry kan laat voel. Dit is 'n vrye uitdrukking van menslike verstand. Sonder kunstenaars sal ons sonder twyfel kulturele armoede beleef,” meen Hennie.
Kunstenaars wie se konserte nou beskikbaar is, is Adam Tas, Riaan van Rensburg en Willem van der Ryst. Daar is egter ook konserte van kunstenaars soos APPEL, Jo Black, Pieter Koen, Bernice West en Danny Smoke beskibaar vir bepaalde tye. Hou gerus Dapper Media se sosiale media dop vir meer inligting.
Om na die konserte te kyk, besoek Dapper Media by www.dappermedia.co.za en klik op die Tuiskonserte-skakel aan die linkerkant. Vir enige navrae, stuur ‘n e-pos aan info@dappermedia.co.za
Foto krediet: