Deur Nico Strydom
Talle maatskappye het formele mentorskapstelsels om te verseker dat kennis en vaardighede oorgedra word en om talent te identifiseer en te ontwikkel.
Mentorskapprogramme dien nie net as instrumente vir ontwikkeling nie maar is ook uiters koste-effektiewe opsies wat talle voordele vir 'n maatskappy inhou aangesien die hulpbronne reeds daar is.
Navorsing het bevind dat mentorskap werktevredenheid en professionele en persoonlike ontwikkeling tot gevolg het vir sowel die persoon wat mentor as die persoon wat aan die ontvangkant is. Werknemers is ook meer geneig om by hul werkplek te bly indien hulle voel hulle kry hulp en dat daar moeite gedoen word met hul ontwikkeling.
Mentorskap in die werkplek kan verskeie vorms aanneem. 'n Werknemer kan byvoorbeeld deur een van sy eweknieë gementor word om hom of haar aan die organisasie se kultuur bekend te stel en hul touwys te maak oor hoe dinge gedoen word.
Die ander tipe mentorskapverhouding sal wees tussen 'n meer ervare werknemer en 'n nuwe of minder ervare werknemer. Die ervare werknemer sal die ander werknemer onder sy of haar vlerk neem en nuwe vaardighede aan hom of haar oordra terwyl die ervare werknemer in die proses ook dalk van hul eie talente identifiseer en ontwikkel.
Die voordele wat 'n nuwe of minder ervare werknemer kan put uit 'n mentorskap met 'n meer ervare werknemer is amper eindeloos. Die mentor kan uiteindelik die bepalende faktor wees oor of die persoon wat gementor word uiters suksesvol word in sy of haar werk.
Mentors is dikwels persone wat ook vroeër self 'n mentor gehad en baie daarby gebaat het en dus nou dieselfde vir iemand anders wil doen.
'n Mentorskapprogram by 'n werkplek kan help om 'n leerkultuur te skep waar werknemers deurlopend kennis met mekaar deel. Dit help nuwer onervare werknemers om hul volle potensiaal te bereik en lei baie dikwels tot beter produktiwiteit.
Mentorskap help verder om leierskap te versterk en om vaardighede in toekomstige bestuurders te skep. Werknemers wat gementor word, het oor die algemeen beter werktevredenheid en voel dat hulle 'n belangrike rol het om te speel in hul werkplek.
Dit is egter belangrik om te probeer om die regte mentor aan 'n spesifieke werknemer toe te wys om te verseker dat die persone gemaklik met mekaar is en dat daar 'n wisselwerking is wat die gewenste resultate gaan lewer. Dit is ook belangrik dat daar duidelike verwagtinge moet wees en 'n struktuur om die mentorskap te bestuur.
Bronne
The Balance Careers: https://www.thebalancecareers.com/developing-and-serving-as-a-mentor-in-today-s-workplace-2275287
Chron: https://smallbusiness.chron.com/advantages-mentoring-workplace-18437.html