Deur dr. Eugene Brink
In 2020 het mense wêreldwyd gewoond geraak daaraan om produkte en diens oor die internet te bestel. Insgelyks het besighede hul e-handelplatforms uitgebrei ten einde vir hierdie veranderende behoeftes voorsiening te maak.
Tencent en Amazon het wêreldreuse geword en e-handel gee vir kopers gerief en verlaagde koste vir verkopers.
Kliënte se manier van wisselwerking, hul behoeftes en manier van koop het dalk oor die afgelope 20 jaar beduidend verander, maar die waagstukke vir besighede met elektroniese aanbiedings kan nie hoër wees nie. Duidelike en effektiewe kommunikasie is steeds die grondslag van enige besigheidstrategie en organisasies wat dit nie beoefen nie sal ondergaan in 'n ekonomie wat toenemend digitaal word – veral in die Covid-19-era van minimale kontak.
Die besigheidskryfster Lisa McQuerrey sê dat in teenstelling met tradisionele besighede waar persoonlike kontak met kliënte die gewone ding is, maak e-handelbesighede op virtuele kommunikasiemetodes staat. “Hoewel dit dikwels 'n doeltreffender en effektiewer manier is om inligting uit te ruil, moet werkers sorg dra dat hulle 'n gepaste boodskapdiens en duidelike kommunikasie verseker om teen misverstande te waak. Swak kommunikasie in e-handel kan verlore besigheid en 'n onprofessionele beeld tot gevolg hê.”
Hierdie virtuele kommunikasie hang eerstens af van 'n gerieflike en effektiewe webwerf. “'n Gebruikervriendelike maatskappywebwerf is 'n essensiële middel om e-handel te bedryf. Sluit daarby in hoëresolusiefoto’s, gedetailleerde beskrywings van produkte en dienste en, indien dit moontlik is, videohandleidings oor hoe julle produkte werk. Sluit ook in 'n afdeling vir veelgevraagde vrae om algemene vrae en kommer te hanteer sodat julle inligting vinnig en doeltreffend aan voornemende kliënte kan kommunikeer,” is McQuerrey se raad.
'n Blog is onlosmaaklik deel van die webwerf. ”'n Blog bied 'n interessante platform om met jou kliënte en voornemendes te gesels. Deur 'n goed versorgde blog by die varsheid van die webwerf te voeg, bou jy geloofwaardigheid en vertroue,” skryf teg-entrepreneur Ajeet Khurana op The Balance.
Daar word ook aanbeveel dat jy jou soekenjin se optimalisering (SEO) versterk, wat jou status in en verkeer via soekenjins soos Google sal verbeter. Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur die slim gebruik van dikwels gesoekte sleutelwoorde.
OK, jy het 'n webwerf op Google maar dit waarborg nie noodwendig optimale blootstelling vir jou maatskappy nie. Met biljoene mense wêreldwyd wat so baie tyd op sosiale media deurbring, is die voordele onbetwisbaar.
Platforms soos Facebook, Twitter, Instagram en Snapchat sal jou besigheid help om eerstens help om jou besigheid se aanlynbereik uit te brei. Voorts laat dit ook mense toe om jou handelsmerk met hul gesinne en vriende te deel terwyl jy met hulle kan skakel op 'n meer informele wyse as wat met normale advertering die geval is. Hoewel dit instandhouding en konstante vernuwing verg, is dit ook baie meer koste-effektief as konvensionele bemarkingsmetodes, en jy kan dus jou kliënte teiken op die platforms wat hulle dikwels besoek.
Omdat dinamiese en visuele middele toenemend gewild en belangrik woord, is 'n YouTube-kanaal en video’s van die uiterste belang.
E-pos en webkletsdienste moenie afgeskeep word nie. “As jy kliënte die opsie bied om vrae en besorgdhede aan jou te e-pos, moet jy seker maak dat jou reaksietyd vinnig is – dieselfdedag- of 24-uur-omkeertyd is ideaal. Gebruik 'n geoutomatiseerde e-pos-reaksiestelsel om kliënte onmiddellik te laat weet dat hul navraag ontvang is en binnekort aandag sal kry. Dit sê aan die verbruiker dat iemand sy navraag ontvang het en gou met hom sal kontak maak,” sê McQerrey.
Sy sê dit is noodsaaklik om kliënte toegang tot kletsgeriewe met ingeligte personeel te gee. “Dit help kommunikasie met tydgestremde kliënte wat dadelik antwoorde wil hê en dit laat werknemers toe om kliënte te verwys na VGV’s en ander aanlyn hulpbronne waar hulle hulp kan kry. Met kletse kan kliënte opvolgvrae vra, wat sal help as hulle probleme het wat nie in die VGV-lys is nie.”
Nieteenstaande die betowering van moderne tegnologie is baie kliënte steeds nie gemaklik daarmee nie en verkies meer konvensionele metodes. Wees dus voorbereid op mense wat steeds 'n telefoon wil gebruik om goed te koop en naverkopesteun wil hê.
As alles gesê is, dikteer nuwe middele nuwe metodes maar vir kommunikasiespesialiste en hul organisasies hang dit steeds af van effektiewe diens en interaksie. Wees vrypostig en innoverend!
Bronne
Ajeet Khurana, 16 Augustus 2019, “Doing E-Commerce Communication Right”, https://www.thebalancesmb.com/how-to-do-ecommerce-communication-right-1141640.
Catalin Zorzini, 5 November 2015, “Why Communication is Essential in Ecommerce”, https://ecommerce-platforms.com/articles/why-communication-is-essential-in-ecommerce.
Cleverecommerce.com, 2020, “Coronavirus & Marketing: how will it affect the ecommerce industry?”, https://www.cleverecommerce.com/ecommerce-blog/coronavirus-marketing/.
Lisa McQuerry, 2020, “Aids to Effective Communication in an E-commerce”, https://smallbusiness.chron.com/aids-effective-communication-ecommerce-72032.html.
QContact.com, 2020, “Effective Communication for E-Commerce Businesses”, https://www.qcontact.com/blog/2019/09/25/effective-communication-for-ecommerce/.
WebFX, 2020, “Social Media for Ecommerce: A Quick Guide”, https://www.webfx.com/industries/retail-ecommerce/ecommerce/social-media/.
Foto krediet: