Uit die pen van Tanya Rossouw, 'n maatskaplike werker by Helpende Hand
“Liewe Here, ek probeer, maar as ek vandag HOOP sou verloor, wees asseblief geduldig met my. Ek is bang. Laat my diep asemhaal en laat my U genade voel…”
Daar breek 'n nuwe jaar toe aan op dieselfde trant as die een wat ons almal graag vir goed agter ons sou wou sit. Hierdie dinge kom toe NIE NET in rillerflieks voor nie…
So hoe hanteer jy hierdie situasie? Is jy ook bang, soos ek?
Deesdae weet niemand meer wat selfs die volgende minuut gaan inhou nie en nogtans gaan ons aan – want ons moet. Want die kalf is in die put.
Het jy geweet dat HOOP die enigste ding is wat sterker is as vrees?
HOOP is so 'n lekker ding! Ons soek dit oral, want die ou met die HOOP is die een wat dikwels gelukkig is. Dit is lekker om gelukkig te wees ook. Daar vêr in die wapad brand dan mos 'n liggie…
In die dae voor maskers kon 'n mooi glimlag 'n hart wat seer is lawe. Jy kon daardie virtuele (nuwe gonswoord!) drukkie sommer voel.
Vandag kan jy maar breed lag en as die volgende ou onverskrokke genoeg is om oogkontak te maak, is sulke skrefies ogies … en ’n masker al wat hy sien! Geen rooi lippe meer in die openbaar nie nee, die dame met die bietjie HOOP grimeer nou net die boonste helfte van haar gesiggie. 😊
In die dae toe dinge nog maklik was en mense min of meer beheer gehad het oor hul eie doen en late sou HOOP dalk nie iets wees waaroor te veel mense herkou nie, want dinge was vir baie mense maklik. Vandag beroof hierdie pandemie duisende mense van die mees basiese dinge. En van alle HOOP. En ons is bang.
Ek ken honderde mense se stories van vrees in die tyd, van seer en van verlies. Van magteloos voel. Ek het ook male sonder tal gesien dat die mens ongelooflike dinge kan vermag as daar net HOOP is. Ongelukkig koop mens HOOP nie op 'n rak nie. Nee, God die Vader het Sy Seun Jesus Christus gegee vir 'n wêreld wat verlore gaan en het aan Hom gesê: Nou gaan JY en gaan wees My hande en My voete. HOOP begin wanneer jy weet jy staan nie alleen nie. HOOP kom wanneer jy besef die storm hou nooit vir altyd aan nie.
“Wanneer dit stikdonker buitekant is, sien jy die sterre op hul helderste ” – sulke lekker Golden Syrup-woorde maar dit bly die waarheid. Antwoorde kom wanneer jy dit die minste verwag.
Jy wat jou hand opgesteek het waar net die Here dit kon sien, wees getrou asseblief, want iemand het jou nodiger as wat jy dink. Elke dag is 'n nuwe begin. Gaan bring HOOP waar dit in baie mense se lewens baie donker is.
“Preach the gospel wherever you go – and if necessary, use words.”
Dis 'n DOEN-DING, al gee jy net 'n skrefie-oog glimlag! Jy sal nooit weet of jou bietjie net was wat iemand nodig gehad het om nie heeltemal te sink nie.