Deur Lize-Mari Labuschagne
Niks bly vir ewig dieselfde nie. In ’n wêreld waar dinge altyd aan die verander is, moet jy soms nadink oor wie jy is en waar jy jouself bevind om uit te vind of dit tyd is vir vernuwing en vir ’n totale verandering van rigting.
Soms gebeur hierdie vernuwing vanself en soms volg dit op ’n bewustelike besluit wat jy neem om jouself te herskep en vorentoe te beweeg as gevolg van die omstandighede waarin jy jouself bevind.
Hier is ’n paar wenke vir mense wat op soek is na vernuwing in hul persoonlike of professionele lewens:
Goeie tydsbestuur
Maak ’n lys van al jou doelwitte en take en besluit watter moet eerste aandag geniet. Sorg dat jy goeie tydbestuur toepas. Staan ’n bietjie vroeër op en doen die dinge waarvoor jy nooit tyd kry nie. Sodoende kom jy by belangrike take uit wat jy andersins sou afstel of uitstel. Probeer ook om werktyd en tyd by die huis en jou mense van mekaar te skei.
Omring jouself met die regte mense
In vandag se tegnologies gekoppelde lewe is dit makliker as ooit om met mense van regoor die wêreld te skakel. Sosiale netwerke is nie net daar om nuwe vriende te ontmoet en werkgeleenthede te kry nie, maar bring jou ook in kontak met mense wat jou kan verander, inspireer en motiveer. Daar was ’n tyd toe mense afgesonderd geleef het, toe ons net interaksie met ’n klein kring van familie en medewerkers gehad het. Nou kan ons met feitlik enigiemand op enige plek kommunikeer. Gebruik tegnologie tot jou voordeel en omring jouself met gespreksgenote wat jou op die regte pad na vernuwing kan plaas.
Kom uit jou gemaksone
Ons is wesens van gewoonte en hou nie regtig van verandering nie. Om egter uit jou gemaksone te breek, dwing jou om nuwe ervarings te hê, nuwe mense te ontmoet en iets nuuts te leer. Dr. Elizabeth Lombardo, terapeut en skrywer van Better Than Perfect, sê om van jou eie gewoontes weg te breek, kan jou net sterker en meer selfversekerd maak sodat jy hoër hoogtes in jou professionele en persoonlike lewe kan bereik. Lombardo meen as ons meer kreatief wil wees, moet ons nuwe dinge probeer, dinge op ’n nuwe manier sien, en op ’n nuwe manier saamwerk.
Pak nuwe projekte aan
Probeer nuwe dinge en eksperimenteer met prettige projekte. Wat eintlik belangrik is, is dat jy nie bang moet wees om te probeer nie. Doen wat jy geniet en dit sal jou help om uit te vind waarheen jy op pad is of waar jy wil wees.
Leer uit mislukkings
Die beste manier om te leer, is deur mislukking. Vernuwing verg harde werk en baie geduld. Jy moet aanvaar dat jy êrens langs die pad gaan misluk. Wees bedag daarop en leer daaruit. “Dit is belangrik om te erken dat herontdekking, hetsy persoonlik of professioneel, skrikwekkend kan wees. Mense dink dikwels dat dit oornag sal gebeur. Laat ek jou vertel, dit gebeur oor baie slapelose nagte,” het Erger O’Brien, stigter en ontwerper van Commando, gesê.