Deur Reon Janse van Rensburg
In die moderne tye waarin ons leef en werk, gebeur dit selde dat ons ooit net met net een taak op 'n slag besig is. Die hedendaagse werksomgewing het in 'n multidissiplinêre wêreld verander. Die nywerheidsera toe die meeste werk deur mense as deel van 'n vervaardigingslyn gedoen is en waar hul werk slegs uit die uitvoering van een taak bestaan het, is iets van die verlede. Vandag word verskillende take deur meer as een persoon gedoen en daar word van verskillende mense verwag om saam aan take te werk om sodoende die beste resultate te lewer. Daarvoor word optimale spanwerk in die werkplek benodig.
Waarom is spanwerk so belangrik?
Spanwerk verhoog produktiwiteit
Dit was Helen Keller wat verantwoordelik was vir die bekende uitdrukking: “Op ons eie kan ons so min doen; saam kan ons soveel meer doen.”
Om as 'n span saam aan 'n taak te werk, verhoog die algehele produktiwiteit en doeltreffendheid van elke spanlid. Take word makliker afgehandel as dit in kleiner dele opgebreek en onder spanlede verdeel word. Dit verlig elke spanlid se werkslading en sorg dat elke rat in die span geolie bly.
Spanwerk bevorder aanspreeklikheid
Ons almal het al saam met spanlede gewerk wat die minimum werk wil doen en ander spanlede wat glad nie omgee om tot in die middernagtelike ure te werk nie. Om saam met albei hierdie groepe in 'n span te werk kan vir enige span skadelik wees en dit kan 'n uitwerking hê op die span se algehele prestasie. 'n Goeie span bestaan uit mense wat mekaar goed verstaan en waardeer. Dit sluit in mense wat hul kant bring, maar wat ook die verantwoordelikheid van goeie tydbestuur besef. Dit is dus belangrik dat almal werk, maar dat werk nie al ding behoort te wees wat saak maak nie. Spanlede moet mekaar ook aanspreeklik kan hou vir hul aksies om te verseker dat enige probleme wat mag ontstaan, uitgestryk word om take suksesvol en sonder struikelblokke af te handel.
Spanwerk bevorder kreatiwiteit
Elke persoon in 'n span het unieke eienskappe en kundigheid wat hulle na die tafel toe bring. Wanneer almal se kundigheid saamgevoeg word, kan nuwe moontlike oplossings ontdek word waaraan voorheen dalk nie gedink is nie. 'n Goeie span ruil graag idees onder mekaar uit en laat toe dat kreatiwiteit gedy. Dit is egter belangrik dat spanlede mekaar kan vertrou en goed met mekaar kan kommunikeer sodat hulle met die beste idees vorendag kan kom. Elke spanlid se stem moet saak maak sonder dat hul idees bloot afgeskiet word. Dit is belangrik dat die diskoers tussen spanlede gemodereer word en dat dit vrylik ontwikkel.
Hoe kan ek sorg dat ek makliker by 'n span inpas?
Wees aan die begin stil en doen net die werk
Ons almal was al in situasies waar “die nuwe persoon” op die toneel verskyn en dadelik probeer om alles te verander en om alles wat werk te herskep en om hulself op die manier in die groep indwing. Dit is nie nodig dat jy daardie persoon hoef te wees nie. Aanvaar dat dit 'n rukkie gaan neem voordat jy aanvaar word en ook jou stempel kan afdruk.
Bied aan om die slegter werk te doen
In plaas daarvan om eerste vir die makliker of lekkerder werk te skiet, sal dit meer in jou guns tel as jy jou hand opsteek vir die minder aangename werk. Jy wil graag voel dat jy in die span hoort en dit is hier wat die beste plek is om by te begin. Dit gee jou ook die geleentheid om te kan uitvind waar jy die grootste verskil in die span sal kan maak. Dit gee jou ook die kans om in jou spanmaats se goeie boekies te beland.
Help ander spanmaats om in te pas
Dalk weet jy hoe dit voel om die een mens te wees wat voel of jy nêrens hoort nie. Dan weet jy ook dat dit nie 'n aangename gevoel is nie. Probeer dus om te verhoed dat nuwe of ander kollegas so voel deur na hulle uit te reik. Nooi 'n nuwe kollega vir tee in jou kantoor, deel jou toebroodjie met 'n kollega wat eenkant sit. Help hulle om in te pas.
Bronne:
https://www.inc.com/jeff-haden/the-best-way-to-fit-in-and-truly-become-part-of-anything.html
https://www.tradiematepro.com.au/the-importance-of-teamwork-in-a-tradie-business/
https://www.potential.com/articles/5-important-reasons-why-teamwork-matters/
Foto krediet: https://www.pexels.com/