Vlieëniers se privaat lewens: Waarskuwings en advies
Deur Dr. Eugene Brink
Die lewe as ’n vlieënier klink miskien glansryk en gedeeltes daarvan is beslis, maar daar is ook ’n paar nadele – veral in terme van jou privaat lewe.
Dit is voor die hand liggend dat ’n lewe bo in die lug kan lei tot onrus en verwaarlosing van jou lewe op die grond. “Die werk-lewe-balans konflik was nog altyd deel van die lugvaartbedryf,” sê Jan Barden, president van Aviation Personnel International (API).
Dit is egter moontlik om ’n gelukkige en bevredigende privaat lewe te handhaaf terwyl jy deur die lug sweef.
Vlieg en alleen leef
Eggenote en gesinne van vlieëniers kan verwag om ten minste sommige herdenkings, verjaarsdae, Kersfeeste, Valentynsdae, en Oujaarsaande sonder hulle geliefdes deur te bring. Indien jy verwag om elke aand teen ’n billike tyd huis toe te kom, aandete te eet, die kinders in die bed te sit, en ’n fliek te kyk voordat jy voor 10 aan die slaap raak, is die lewe as ’n vlieënier moontlik nie vir jou nie.
Indien jy, jou man of vrou tans nie ’n probleem daarmee het nie, hoe gaan dit wees 3, 5 of selfs 10 jaar van nou af? Wil julle graag kinders hê en hoe stel jy voor gaan hulle grootword met jou wat onreëlmatige ure werk? Hierdie is ’n paar van die ernstiger vrae waarmee jy en jou lewensmaat of eggenote sal moet worstel.
Die tyd wat vlieëniers weg is van die huis hang af van die tipe vlugte wat hulle het, watter “lyn” hulle vlieg en waar hulle in hulle loopbaan is. ’n Vlieënier werk gemiddeld 12-15 dae ’n maand en hulle vlugtye kan varieer.
’n Vlieënier se werk is onvoorspelbaar. Die senior vlieëniers kry eerste keuse met die kies van skedules, wat die nuwelinge los om te vat wat ook al oor is. Net soos ander jong werknemers in ander bedrywe moet jong vlieëniers eers hulle merk maak deur hulle privaat lewens op te offer om die voorpunt van hulle loopbaan te bereik.
’n Vlieënier kan ook “op reserwe” wees om te vlieg wanneer die geskeduleerde vlieënier ’n vlug mis weens siekte of ’n ander rede. Hulle spandeer baie dae op bystand en kan nie korttermyn planne met sekerheid maak nie.
“Toe ek jonger was, was ek honger vir ervaring en die regte geleenthede. Ek het my persoonlike lewe opgegee om te kom waar ek vandag is. Die resultaat is dat ek ’n wonderlike loopbaan het, maar geen lewe nie. Dit moet verander, want ek wil nie hê dat “harde werk” my lewe is nie,” sê Susan Anderson, ’n kontrak Learjet-kaptein in Lake Worth, Florida.
Respondente in ’n opname deur die lugvaartwebwerf, AIN, het bevestig dat vlieëniers ouer as 40, sowel as die wat getroud is, skynbaar meer omgee oor aftyd as hulle kollegas wat enkellopend is.
Hoe om alles begrond te hou
Dit is belangrik om jou (toekomstige of huidige) eggenoot of verloofde voor te berei op dit wat van jou loopbaan verwag kan word. Hulle moet onafhanklik wees en begrip hê, en hulle moet besef dat daar sekere spesiale geleenthede gaan wees waarop jy gaan uit mis.
Behou egter kontak. Deesdae is ons gelukkig genoeg om toegang tot verskeie wyses van onmiddellike tegnologie tot ons beskikking te hê, wat ons kan gebruik om met ons geliefdes te praat van basies enige plek af. Hierdie instrumente is ook verbeter en bespoedig met die koms van die Covid-19-pandemie. Byvoorbeeld, gebruik e-pos, WhatsApp, Skype en Zoom om so gereeld as moontlik met jou eggenoot of kinders te gesels.
Vlieëniers moet ook attent wees op werk-lewe-balans, en hulle base moet ’n onontbeerlike deel van die oplossing wees. “Tensy iemand nie lewenskwaliteit-kwessies aan die lig bring nie, gaan niemand buite die lugvaartdepartement of selfs binne die departement, enige iets daaraan doen nie. Kom ons wees eerlik, mense in bestuursposisies is gewoond om te vra vir ’n vliegtuig en verwag dan dat dit moet opdaag. Hoe meer entrepreneuries die maatskappy is, hoe minder neem hulle die lewenstyl van hulle lugvaartpersoneel in ag. Hierdie sukses gedrewe mense het ook nie gewoonlik tyd vir ’n vreeslike lewenstyl nie,” sê Dennis Olson van die lugvaartkonsultasiefirma, Olson & Associates.
Laastens, vlieëniers moet die tyd wat hulle het saam met hulle geliefdes wys spandeer. Wees teenwoordig en moenie afgelei word wanneer jy in hulle fisiese teenwoordigheid is nie. Kwaliteittyd troef die aantal tyd.
Bronne:
Captain Lim, 2 December 2008, “Can a professional pilot have a happy family”, https://www.askcaptainlim.com/general-propilot-76/837-can-a-professional-pilot-have-a-happy-family-.html.
Pilot Mall, 2020, “Marrying a pilot: 5 benefits & drawbacks you should know”, https://www.pilotmall.com/blogs/news/marrying-a-pilot-5-benefits-drawbacks-you-should-know.
Robert P Mark, 8 May 2008, “Pilot Lifestyle: Harmonizing your life’s work with the rest of your life”, https://www.ainonline.com/aviation-news/aviation-international-news/2008-05-08/pilot-lifestyle-harmonizing-your-lifes-work-rest-your-life.
The Gold Wings, 2020, “Airline pilot’s life: How is it really like? Pro & cons”, https://www.thesegoldwings.com/pilot-life/.
Wat hou die toekoms vir lugvaart in?
Deur Nico Strydom
Kenners meen die lugvaartbedryf, plaaslik en internasionaal, gaan waarskynlik heeltemal anders lyk na afloop van die Covid-19-pandemie.
Die groot vraag is tans hoe die bedryf sy bedrywighede moet hervat sodra hy die groen lig kry om dit te doen en hoe lank dit sal neem vir die bedryf om in die posisie te kom waarin dit voor die pandemie was.
Passasiersvlugte is reeds sedert begin Februarie gekanselleer en het kort daarna heeltemal tot stilstand gekom weens die Covid-19-uitbreking. Covid-19 het ook bestaande probleme in die lugvaartindustrie vererger en sekere lugrederye het reeds aangekondig dat hulle werknemers sal moet aflê.
Die internasionale lugvervoervereniging, Iata, het in samewerking met ander kundiges met twee scenario’s vorendag gekom. Die basislynscenario hang daarvan af dat die meeste plaaslike markte in die derde kwartaal weer sal begin sake doen, en dat internasionale markte baie stadiger en in fases open. In dié scenario word daar verwag dat 2019 se passasiersvlakke eers weer teen 2023 ingehaal sal kan word.
Ingevolge die pessimistiese scenario maak ekonomieë stadiger oop en neem dit langer vir reisbeperkings om verslap te word. “Groot stimuluspakkette deur regerings gekombineer met likiditeitsinspuitings deur sentrale banke sal die ekonomiese herstel versnel sodra die pandemie onder beheer is. Die heropbou van passasiersvertroue sal egter langer neem en selfs dan sal individuele en korporatiewe reisigers waarskynlik reisbesteding noukeurig bestuur en eerder nader aan die huis bly, ” sê Alexandre de Juniac, Iata se direkteur-generaal en uitvoerende hoof.
Iata is baie bekommerd oor die verdere invloed wat kwarantynmaatreëls op die lugvaartbedryf kan hê. Die organisasie het 'n beroep op regerings gedoen om alternatiewe te vind vir die handhawing of instelling van kwarantynmaatreëls vir passasiers wat in lande aankom as deel van postpandemiese reisbeperkings.
Volgens Iata het 'n meningspeiling bevind dat 86% van reisigers bekommerd is dat hulle onder kwarantyn geplaas sal word terwyl hulle reis en dat 69% van onlangse reisigers sal oorweeg om eerder nie te reis nie indien dit 'n 14-dag-kwarantyntydperk behels.
“Selfs in die beste omstandighede gaan hierdie krisis baie werkgeleenthede kos en die ekonomie beroof van jare se lugvaartgestimuleerde groei. Ten einde die lugvaartbedryf se vermoë te beskerm om 'n katalisator vir ekonomiese herstel te wees, moet ons hierdie voorspelling nie vererger deur reis met kwarantynmaatreëls onuitvoerbaar te maak nie,” het De Juniac gesê.
“Ons het 'n oplossing vir veilige reis nodig wat twee uitdagings die hoof bied. Dit moet passasiers die vertroue gee om veilig en sonder onnodige moeite te reis, en dit moet regerings die vertroue gee dat hulle beskerm word teen die invoer van die virus. Ons voorstel is verskillende lae van tydelike maatreëls sonder kwarantyn totdat daar 'n entstof, sogenaamde “immuniteitspaspoorte” of byna onmiddellike Covid-19-toetsing op groot skaal beskikbaar is.”
Iata het voorstelle gemaak vir 'n tydelike risikogebaseerde benadering om regerings die vertroue te gee om hul grense oop te stel sonder dat mense wat in die land aankom in kwarantyn geplaas word. Dit sluit in om te verhoed dat mense sifting ondergaan en dat dié wat simptome toon nie mag reis nie. Die behels ook dat die risiko’s van asimptomatiese reisigers aangespreek word en dat regerings 'n robuuste stelsel van gesondheidsverklarings en kontakopsporing bestuur.
Volgens Iata is die wedersydse erkenning van ooreengekome maatreëls van kritieke belang vir die hervatting van internasionale reis.
Hulp sal nie gou beskikbaar wees vir swaar getrefde lugvaartbedryf in SA nie
Deur Cindy Venter
Die lugvaartbedryf in Suid-Afrika is een wat alreeds swaar kry – dit is al lank reeds die geval en die Covid-19-pandemie sit nou net die kersie op die koek.
Op 25 Maart 2020 het besigheidsreddingspraktisyns 'n versoek by die hooggeregshof ingedien om SA Express te likwideer. Die regering het aangedui dat hulle 'n besluit sal neem nadat hulle die aansoek verwerk het. Hulle was in die verlede gekant teen die besluit. Dit het gevolg nadat SA Express reeds in Maart 2020 nie salarisse aan hulle 691 werknemers kon betaal nie.
Kulula en British Airways het op hul sosialemediabladsye aangedui dat alle vlugte opgeskort is, maar weer op 19 April 2020 hervat sal word, terwyl FlySafair aangedui het hy sal weer vanaf 20 April 2020 vlugte hervat. Mango het gesê dat kliënte wat vlugte bespreek het tot en met 30 April 2020 tegemoet gekom sal word met veranderinge. Volgens Cathy Powell, publiekeregkenner, kan die afsonderingstydperk moontlik verleng word. Ons lugvaartsektor is reeds onder druk en die verlenging van die afsonderingstydperk sal dit amper onmoontlik maak om die lugrederye te red.
Joachim Vermooten, 'n lugvaart ekonoom, sê dat binnelandse lugrederye nie die pandemie sal oorleef indien die staat nie hulp verleen nie. Dondo Mogajane, die Nasionale Tesourie se sekretaris-generaal, het aangedui dat die lugvaartbedryf se versoek om staatshulp heel agter in die ry staan. Daar moet in hierdie stadium voorsiening gemaak word vir ons gesondheidsorgsektor en hulle sal noodsaaklike dienste prioritiseer, selfs nadat die afsonderingstydperk verby is. Data wat ingesamel is van die Air Transport Association (IATA) dui daarop dat die hersteltydperk vir lugrederye 6 tot 7 maande kan duur nadat so 'n pandemie verby is.
Internasionale vlugte in die toerismebedryf dra weekliks 13 miljoen rand by tot die Wes-Kaapse ekonomie, en David King, projekbestuurder by Air Access, is wel positief dat die sektor vinnig kan herstel en selfs sal groei nadat die krisis verby is.
Indien jy inligting verlang oor hoe om 'n aansoek doen by die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) in te dien, volg die skakel: https://corona.org.za/vraag-en-antwoord-rakende-covid-19/. Jy kan ook 'n e-pos stuur na covid19ters@labour.gov.za
Bronne:
https://www.businesslive.co.za/bd/national/2020-03-29-government-still-deciding-whether-to-oppose-sa-express-liquidation/
https://www.iol.co.za/travel/travel-news/these-sa-airlines-have-suspended-flights-45449674
https://www.timeslive.co.za/sunday-times/business/2020-03-29-airlines-ask-for-state-aid/
MENTORSKAP
Solidariteit se mentorskapblad is hier as hulpmiddel vir jou. Mentorskappe is daar om leiding en advies te bied en Solidariteit glo vas in die waarde van leiding wat sy mense vir mekaar kan bied. Hier by Solidariteit poog ons om gedurig voor die golf van ontwikkeling te wees en daarom het ons hierdie blad gestig. Indien jy ’n leerling is en graag deur ’n mentor gelei wil word kan jy hier met verskeie mentors in jou spesifieke beroepsrigting in kontak kom. Jy kan egter ook as mentor optree vir ander in jou beroep. Besoek gerus die mentorskapblad en begin jou reis as mentor of leerling. Klik hier.
MEER OOR BEROEPSGILDES
DIE SOLIDARITEIT BEROEPSGILDES
BEROEPGILDES-NUUS
18 Februarie 2022
Sluit aan in 1 minuut Voltooi die volgende vorm om binne een minuut by die vakbond Solidariteit aan te sluit. Solidariteit-lidmaatskap kos R156 per maand. Lees...
Lees meer >
24 Januarie 2022
Sluit aan in 1 minuut Voltooi die volgende vorm om binne een minuut by die vakbond Solidariteit aan te sluit. Solidariteit-lidmaatskap kos R156 per maand. Lees...
Lees meer >
21 Junie 2021
Deur Melodie Veldhuizen Romantiseer jy ook die werk van vliegtuigkajuitpersoneel? 'n Glansryke professionele voorkoms in hul pragtige uniforms, mens kan hulle altyd deur 'n ring...
Lees meer >
31 Mei 2021
Deur Dr. Eugene Brink Lugvaart is een van die bedrywe wat die swaarste deur die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkings getref is. Internasionale reise is...
Lees meer >