Deur Marli Naidoo
Lugwaardinne werk gewoonlik skofte, en indien hulle internasionaal vlieg, kan hulle vir drie tot vier dae op 'n slag van die huis af weg wees. Dit is egter nie onmoontlik om suksesvol in beide jou loopbaan en ouerskap te wees nie.
Dit is belangrik om sommer dadelik op te hou met skuldig voel. Sommige lugwaardin-mammas voel dat ander ouers hulle veroordeel omdat hulle vir lang ure of selfs dae van die huis af weg is. Onthou dat die spesifieke ure wat jy met jou kinders spandeer nie bepaal of jy 'n goeie ouer is nie. Indien lugvaart jou passie is, is dit altyd moontlik om jou werk ten volle te geniet en die tyd met jou kinders ook te kan koester. Een van die mees waardevolle geskenke wat ons ons kinders kan gee, is die genot om te werk, en dit in 'n loopbaan waarvoor ons lief is.
Maak seker dat jy 'n goeie ondersteuningsnetwerk het. Jou man moet bereid wees om jou loopbaan te ondersteun. Ouma en Oupa kan ook help om die kinders te versorg of by die skool af te laai. Indien jy 'n enkelouer is of nie familie het wat kan help nie, is dit nodig dat jy vir jouself 'n netwerk opbou. Vind uit van naskoolprogramme, en sluit aan by moederskapgroepe. Jy kan moontlik mammas ontmoet wat ook skofte werk, en julle kan mekaar met julle kinders uithelp.
Maak seker dat jy jouself versorg. Jy het tyd alleen nodig waar jy rus of jouself bederf met 'n pedikuur of lekker leestyd. Jy kan nie jou kinders geniet wanneer jy oorwerk en uitgeput is nie.
Belê in produkte en dienste wat jou lewe makliker gaan maak. 'n Goeie matras kan vir goeie rus sorg, en die dienste van 'n kinderoppasser kan jou en jou man van 'n aandjie uit voorsien.
Moenie jouself met ander mammas vergelyk nie. Doen wat jou en jou gesin pas en gelukkig maak, en bly weg van kritiese en negatiewe vriendskappe.
Beplan julle etes vooruit en vries heelwat maaltye. Wanneer almal te moeg is om te kook, kan julle een van die etes ontvries en geniet. Verpak ook enkel-etes. Leer julle kinders om 'n etetjie uit te haal en te ontvries, of self toebroodjies te maak vir middagete.
Gebruik 'n muurbeplanner waarop al jou vlugte asook die kinders se aktiwiteite en julle algemene beplanning ingevul word.
Onthou dat jy en jou man 'n span is wat saam berge kan versit. Moenie toelaat dat probleme julle teen mekaar opstook nie. Sien probleme as uitdagings wat julle saam kan aanvat en oorkom.
Bronne:
Mum with wings: http://www.mumwithwings.com.au/balancing-motherhood-and-working-as-a-flight-attendant-2/#comments
Plane mom: http://planemom.com/how-i-manage-life-being-a-flight-attendant-with-kids/