Deur Reon Janse van Rensburg
Baie aspirant studente wat maatskaplike werk studeer wonder of hulle werklik het wat nodig is om dié beroep te betree. Hoewel dié beroep nie sonder sy belonings kom nie, is dit uiters stresvol, emosioneel veeleisend en worstel maatskaplike werkers dikwels met verskeie probleme wat op een slag opduik.
Behalwe vir die bogenoemde uitdagings kan ander werksomstandighede en ook die vergoeding wat jy vir jou werk kry, dikwels net so uitdagend wees. Soos in baie ander beroepe verg dit 'n sekere soort mens om 'n maatskaplike werker te wees.
Maatskaplike werkers is nes onderwysers geroep om 'n werk te verrig. Maatskaplike werkers doen die werk wat hulle doen vir die liefde van die saak en omdat hulle werklik oor ander mense omgee. Hulle is egter nie immuun teen uitbranding, uitputting en gevoelens waarmee ander mense in alle beroepe en ook in die samelewing te doen het nie.
Sarah (skuilnaam) is 'n maatskaplike werker wat anoniem op My Social Work News vertel dat sy na jare se harde werk as maatskaplike werker nie meer dieselfde mens is as wat sy was voordat sy die beroep betree het nie.
“Ek is jammer, ek is nie die persoon wat ek was voordat ek met hierdie werk begin het nie. Ek weet ek het verander op maniere wat jy kan sien en ek weet ook dat ek op maniere verander het wat jy nie so goed kan sien nie.” – Sarah, maatskaplike werker
Dalk voel jy as maatskaplike werker nes Sarah. Na jare in die beroep is jy ook moontlik moeg en uitgebrand. Die stres en spanning wat jy daagliks ervaar begin sy tol te eis. Lees verder wat Sarah te sê het:
Sarah vertel dat toe sy die eerste keer die beroep betree het, dit was omdat sy ander wou help en 'n verskil in die wêreld wou maak. Sy wou nie 'n werk hê waar sy die ure aftel of waar sy reeds voor die einde van die maand moes dink oor hoe sy 'n plan gaan beraam om alles te betaal nie.
“Ek wou 'n werk hê waar ek in diens kon wees vir ander. Ek wou die vrugte van my arbeid meet in die lewens wat ek beter gemaak het en nie hoeveel ek my eie status verbeter het nie.”
Sarah vertel dat daar geen beter beroepskeuse kon wees as die een van 'n maatskaplike werker nie en dat sy nog altyd daarop trots was om 'n maatskaplike werker te wees, veral omdat sy haar lewe daaraan kon wy.
Sarah voel egter dat sy nie langer kan wegsteek oor hoe die beroep haar as mens verander het nie.
“Ek is nie meer daar vir my gesin soos ek voorheen was nie. Dit was vroeër so dat ek elke dag dieselfde tyd huis toe sou kom. My gesin kon op my woord staatmaak. Wanneer ek gesê het dat ek by my kinders se konserte sal wees, was ek daar en het ek my vrye tyd aan hulle gewy. Ek is jammer dat ek nie meer so is nie. Julle is nie meer die enigste mense vir wie ek 'n plig tot sorg en verantwoordelikheid het nie en, soveel as wat dit my pyn om dit te sê, daar is soms ander mense wat my baie meer nodig het as julle.”
Sarah voer aan dat wanneer sy nie die konsert sien nie, weet sy dat haar kinders steeds daardie aand veilig huis toe sal gaan. Wanneer sy aandete saam met haar gesin mis, weet sy darem dat haar gesin iets te ete gehad het en selfs wanneer sy een van haar kinders se verjaarsdae mis, weet sy dat daar ander mense is wat vir haar kind omgee.
“Dis nie dat ek deesdae minder lief is vir jou nie, maar eerder dat ek my eie geluk moet opgee ter wille daarvan om ander mense veilig te hou.”
Sarah verduidelik dat sy oor 'n tydperk gesien het hoe haar vriende stadig maar seker uit haar lewe verdwyn. Vroeër het hulle nog dikwels oor die telefoon gesels, maar na 'n dag by die werk waar sy so intensief besig was om met mense te gesels, het dit vir haar moeilik geraak om die energie bymekaar te skraap om die telefoon nog een keer op te tel wanneer sy uiteindelik tuis is.
“Wanneer jy probleme gehad het, was ek jou skouer om op te huil en jy het altyd gesê hoe goed ek was om raad te gee. Nou dink jy ek gee nie meer om nie, want ek reageer nie met soveel deernis soos vantevore nie.”
Die waarheid, sê Sarah, is egter nie dat sy nie omgee nie, maar dat baie mense wie sy ken se probleme skielik so onbenullig lyk, veral in die konteks van wat sy daagliks by die werk beleef. Skielik lyk die klein kwessies nie meer so belangrik nie en dinge soos mishandeling, onderdrukking en mense wat werklike onreg ervaar het, kwel haar meer.
“Die dinge wat ek gesien het, die laste wat ek dra en die pligte wat ek moet aanpak, verdwyn nie net wanneer jy by die huis kom nie. Die emosies talm en bly lank by jou, selfs nadat die gebeure uiteindelik verby is. Ek kan nie net afteken en afskakel soos voorheen nie.”
Sarah sê dat sy egter hoor dat almal vir wie sy lief is, haar verandering ook op 'n positiewe wyse gesien het. Sy noem dat al kan sy nie meer op dieselfde manier daar wees vir die mense waarvoor sy omgee nie, hoop sy dat haar eie mense kan trots wees op haar vir die feit dat sy daar is vir ander wat nie dieselfde ondersteuningsnetwerke geniet as wat sy doen nie. Sy is wyser as voorheen en het ook as mens in dié proses gegroei.
“Ek weet dit kan soms vir jou lyk asof ek nie vir jou omgee soos voorheen nie, maar ek verseker jou dit is nie hoe dit is nie. Dit is net dat daar soms mense daarbuite is wat my meer nodig het as jy.”
Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk moedig maatskaplike werkers aan om na kundiges uit te reik en om oor hul geestesgesondheid te gesels. Die druk is baie, maar jy hoef dit nie alleen te dra nie.
Bron:
I’m sorry I’m not the person I used to be before I became a social worker – https://www.mysocialworknews.com/article/i-m-sorry-i-m-not-the-person-i-used-to-be-before-i-became-a-social-worker
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersgilde staan op vir sy lede in die beroep. As maatskaplike werker is jy die lig in iemand se donkerte, en dit is ons verantwoordelikheid om jou arms hoog te hou, sodat jy jou roeping kan uitleef. Indien jy meer wil weet oor jou Gilde, gesels met ons by mw@solidariteit.co.za