Deur Reon Janse van Rensburg
Die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe (SARMD) het aangekondig dat hy die jaarlikse registrasiefooie vir maatskaplike werkers, hulp-maatskaplike werkers, kinder- en jeugwerkers, hulp-kinder- en jeugwerkers, studente en spesialis maatskaplike werkers vir 2021 wil verhoog.
Die SARMD se beplande fooiverhoging van tussen 35% en 230% is volgens Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde buitensporig en onbillik.
Volgens Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde, bied die raad ook tans geen verduideliking vir die drastiese en inkonsekwente voorstel ten opsigte van die verhoging nie.
Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde wat as waghond vir dié beroep optree sal teen 15 Februarie kommentaar teen die voorgestelde verhogings indien.
Dit sal, onder andere, kommentaar oor die volgende insluit:
Hoewel die kommentaar nie slegs tot die bogenoemde kwessies beperk word nie, sal die Maatskaplikewerkersgilde ook alternatiewe voorstelle tot dié verhoging by die kommentare insluit.
“Maatskaplike werkers en ander persone wat in die beroep werksaam is, is mense wat hulle roeping in uitdagende omstandighede uitleef en nie vir finansiële gewin nie. By die nie-winsgewende instansies waar meeste maatskaplike werkers werk, is daar meer mense wat aanklop vir hulp, terwyl baie donateurs weens die inperking finansiële steun moes onttrek, en geen fondsinsamelingsprojekte gehou kon word om fondse aan te vul nie. Die hele industrie is onder druk. Hierdie radikale verhogings sonder enige verduideliking, is absurd en daarom tree die Maatskaplikewerkersgilde namens sy lede in hierdie beroep op. Ons kan nie bekostig om stil te bly nie.” – Marisa Engelbrecht, sektorhoof van die Maatskaplikewerkersgilde
Die Maatskaplikewerkersgilde wil elke maatskaplike werker en persoon wat in die bedryf betrokke is aanmoedig om saam met hulle beroepsgemeenskap op te staan en “nee” te sê. As waghond vir die bedryf voel die Maatskaplikewerkersgilde sterk daaroor om aspekte soos dié, waar lede belemmer word om hul werk effektief te doen, aan te pak. Geen lid staan alleen nie.
Moenie stilbly nie. Die Maatskaplikewerkersgilde staan op vir jou!
Voeg jou naam by jou beroepsgemeenskap. Stuur aan vir jou kollegas – https://gildes.solidariteit.co.za/maatskaplike-fooie/