Die Mineraleraad van Suid-Afrika het onlangs 'n hofaansoek ingedien vir die geregtelike hersiening van die Mynbouhandves rakende die voortgesette gevolge van bemagtigingstransaksies. Die raad voer aan dat die handves, wat in September 2018 gepubliseer is, nie volkome in ooreenstemming is met 'n hooggeregshofuitspraak van April 2018 oor die eens-bemagtig-altyd-bemagtig-beginsel nie.
Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, is nie beïndruk deur die aansoek nie en het die raad versoek om eerder deur verdere dialoog 'n oplossing vir die probleem te vind.
Die besluit om hom op die hof te beroep, kan die raad nog duur te staan kom weens die negatiewe impak wat dit op verhoudinge met die minister, sy departement en vakbonde kan hê. Om met 'n regsproses te begin wat uiteindelik in die konstitusionele hof kan beland, is ook kortsigtig en skep regulatoriese onsekerheid.
Die konstitusionele hof sal waarskynlik die regering se standpunt steun dat wanneer aansoek gedoen word om 'n nuwe mynlisensie, die mynhuis die nuwe teiken van 30%-swart eienaarskap moet bereik. Dit is mos ondenkbaar dat die hof sal beslis dat indien 'n mynhuis die vorige bemagtigingsteiken van 26% behaal het, hy dan vir altyd leliewit kan wees. Dit is in wese die strekking van die April 2018-hofuitspraak.
Die klousule oor die eens-bemagtig-altyd-bemagtig-beginsel in die handves is heelwat gunstiger as die weergawe in die oorspronklike Zwane-handves. Dit was destyds 'n deurbraak in die onderhandelinge toe die departement voor die April-uitspraak, die Mineraleraad grootliks tegemoet gekom het daaroor. Selfs daarna het die departement aangedui dat hoewel daar heelwat regsgronde is om teen die uitspraak te appelleer, hy eerder verdere toegewings oor eienaarskap sal maak. Hy wou, met die steun van vakbonde, eerder 'n kompromis aangaan om te verhoed dat die eienaarskapkwessie 'n uitgerekte litigasieproses tot gevolg het.
Soos in die geval van die Mineraleraad het mynbougemeenskappe hulle ook vroeg verlede jaar tot die howe gewend, maar in hul geval weens uitsluiting uit die konsultasieproses. Die hooggeregshof het die departement beveel om met myngemeenskappe oor die inhoud van die handves te konsulteer. Mantashe het toe 'n landwye toer onderneem om gemeenskappe te “konsulteer” en 'n beraad is gehou waarop gemeenskappe ook insette kon lewer.
Ná die publikasie van die handves het myngemeenskappe aangevoer dat die konsultasieproses gebrekkig was.
Ek het met van die gemeenskapsleiers daaroor gesels en volgens hoofman Phathisiwe Mjoji van die Malangeni-distrik in die Oos-Kaap is konsultasie met 'n gemeenskap nie 'n eenmalige gebeurtenis nie. Hy verduidelik dat dit tyd geneem het om ná Mantashe se blitsbesoek aan sy gemeenskap te verduidelik waaroor die gesprek gehandel het. Toe hulle gereed was vir 'n meer produktiewe opvolggesprek, was die handves reeds ingestel. Dié siening word beaam deur prins Zwelithini Dlamini van die Lomshiyo- tradisionele gemeenskap naby Barberton. Hy het aangevoer dat sy gemeenskap ook glad nie verstaan het waarvan die minister gepraat het nie en dat daar nie geleentheid vir 'n opvolggesprek was nie. Die uiteinde was dat die handves se begunstigdes geen werklike inspraak in die uitslag gehad het nie.
'n Gemeenskapsleier van die Moruleng-distrik naby Pilanesberg wat by die gemeenskappe se hofaansoek betrokke was, voer aan dat Mantashe met sy besoek bloot die handves se inhoud aan hulle oorgedra het. In weerwil van hul insette tydens in die ontmoeting en op die beraad, is die handves hoegenaamd nie gewysig nie. Verdere kritiek was dat Mantashe hoofsaaklik met hoofmanne en nie met die gewone verteenwoordigers van gemeenskappe nie gepraat het. Dit is strydig met die hofuitspraak.
Die gemeenskappe het egter besluit om in die belang van stabiliteit in die mynbousektor geen verdere regstappe te neem nie, en daarvoor moet hulle krediet kry.
Ek stel voor dat die Mineraleraad die mynbougemeenskappe se pragmatiese voorbeeld volg en nie hul riskante litigasieproses voortsit nie, want in die proses gaan hulle 'n verdere prys daarvoor betaal in die vorm van 'n vyandige minister, regering en populistiese vakbonde.
Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidariteit