Deur Cindy Venter
My hoogtepunt elke jaar vir so lank as wat ek kan onthou is die hoop en die positiewe vooruitsigte wat nuwejaarsvieringe bring. Dis asof ons elke jaar simbolies na die nuwejaar kyk as ’n “nuwe begin”, nog ’n kans om onsself te verbeter, of om veranderinge te maak wat ons eintlik al laasjaar, of die jaar voor dit wou doen.
Is ek die enigste een wat dink dat 2020 se nuwejaar ’n absolute klug was? Ons was op die strand die aand van 31 Desember 2019, vriende om ’n vreugdevuur, om middernag opgespring en baie hoopvol mekaar gedruk (nogal) en vuurwerke gekyk terwyl ons vir mekaar ’n gelukkige nuwejaar toewens. Min het ons geweet wat vanjaar gaan meebring. Lang storie kort, dit was nié die positiewe simboliese “nuwe begin” wat ek verwag het nie.
Een ding wat jy van die Afrikaner-kultuur kan waardeer is ons sin van humor. Vandat die pandemie nou in volle swang in Suid-Afrika is, sien mens oral grappe van hoe 2020 eintlik net gebreek is, en ek hoor oral mense wat sê dat hulle nie kan wag vir 2021 nie; dat hulle maar die jaar afgeskryf het en weer volgende jaar sal probeer. Ons sien uit gewoonte uit na die nuwe hoop wat die nuwe jaar vir ons gaan bring, maar wat as ons kyk na die hoop wat ons te midde van ’n pandemie vanjaar kon skep?
Solidariteit het die Krisisfonds op die been gebring wat meer as R24 miljoen ingesamel het om hulp aan gemeenskappe te verleen en wat gesorg het dat kinders aanlyn hulle klasse deur Wolkskool kan bywoon. ’n Gemeenskap se bydraes het dit moontlik gemaak. Helpende Hand het ’n Gemeenskapsherstelprogram bekendgestel, wat na ons lede se welstand gaan omsien. Die Werkherstelprogram gaan sorg dat gemeenskappe gebind, beskerm en bemagtig word sodat hulle mekaar kan help.
Alles van hierdie jaar was nie sleg nie. Ons het as kultuurgemeenskap geleer dat ons veerkragtig is. Ons het die krag van die jeug besef; hoe hulle na elke nuwe aankondiging kon aanpas en nog steeds kan lag en speel. Ons het weer die belangrikheid van familie en vriende en samehorigheid besef, en in baie gevalle het dit families weer bymekaargebring. Al is dít die enigste goeie ding wat hieruit gekom het, is dit genoeg vir my.
Wat ek in 2020 besef het, is dat ons elke jaar lewe vir die einde van die jaar. Jy tel die dae af tot jou Desember-vakansie. Ons wens die tyd verby, want ons wil gaan rus en as jy weer sien is dit Maart en jy sien alweer uit na die volgende vakansie. Is dit nie tyd om te begin uitsien na vandag nie? Ek het besef dat ek nie meer wil wag vir die vakansie voor ek moeite doen om by my familie te gaan kuier nie. Ek het nie ’n nuwejaarsvoorneme nodig om ’n positiewe verandering te maak nie. Ons as gemeenskap het 2020 draagbaar vir mekaar gemaak. Kom ons gaan met hierdie hoop, en saamstaan en saamdoen gemoed in 2021 in. Vandag is ’n nuwe dag en jy gaan nooit weer so jonk wees soos jy vandag is nie, so geniet dit nóú.