Deur Dr. Eugene Brink
Die Covid-19-pandemie het werklik verwoesting gesaai in die kunstewêreld, maar dit het indirek ook aanleiding gegee tot ’n herontdekking daarvan deur middel van ander mediums.
So sê Ettienne Ludick, radio-omroeper by die Afrikaanse radiostasie RSG en seremoniemeester by kunsfeeste. “Kunstenaars moes buite die boks begin dink om ’n gehoor te bereik omdat dit met die inperking nie moontlik was om op verhoë op te tree nie. Ewe skielik is feeste, konserte en vertonings aanlyn met groot sukses aangebied.”
Hy sê juis om hierdie rede sal die uitvoerende kunste soos ons dit geken het ook vanaf 2021 deels verander na ’n meer aanlyn geïntegreerde kunstewêreld. Dit sal dan ook ’n baie groot rol in die herlewing van die bedryf beteken. “Die aanlyn arena het ’n nuwe denkwyse aan die kunste gegee en hoewel die fisiese gehoor steeds eerste prys is vir enige kunstenaar – hetsy vir die akteur of sanger – bied die aanlyn wêreld werklikwaar baie geleenthede om opvoerings van enige plek in die wêreld te kan ‘bywoon’. Die gehoor of kunsliefhebber kan daarom vanuit die gemak van hul eie rusbank die vertoning volg.”
Hy erken dat die pandemie finansiële verwoesting saai onder kunstenaars en die kunstewêreld, maar daar het ’n nuwe wêreld ook oopgegaan – veral in Suid-Afrika. “Om dié rede dink ek dat die tydelike terugslag stelselmatig uitgewis kan word; uiteraard met die samewerking van die ondersteunende publiek.”
Ekonomiese bydrae van die kunste
Volgens SA Cultural Observatory se hoof-ekonoom Jen Snowball het die kreatiewe ekonomie 1.7% tot die bruto binnelandse produk (BBP) in 2018 bygedra. Indien die vermenigvuldiger-uitwerking in ag geneem word (met inbegrip van byvoorbeeld ’n rekenmeester wat vir ’n teatermaatskappy werk of spyseniers wat in die rolprentbedryf werk), maak die sektor selfs ’n meer indrukwekkende 5.5% van die BBP uit.
Kunstenaars het egter die afgelope jaar baie swaar getrek. In Mei 2020 het die departement van sport, kuns en kultuur meer as 5000 aansoeke vir finansiële verligting ontvang, maar slegs 488 het wel hulp ontvang. Meer as 92 000 mense werk regstreeks in die kuns-en-kultuurbedryf, terwyl 335 000 in ondersteuningsdienste werk en amper 700 000 in aanvullende dienste – altesaam ondersteun die bedryf sowat 1.1 miljoen mense in Suid-Afrika.
Die kuns-en kultuurbedryf het ook tussen 2016 en 2018 teen ’n gesonde 2.4% per jaar gegroei – heelwat vinniger as die 1.1% waarteen die BBP in daardie tyd gegroei het. Dit sal uiteraard stadiger in 2020 en straks 2021 groei weens die pandemie, maar dié gewilde bedryf sal uiteindelik weer kop optel namate aanpassings gemaak word.
Skuiwe en gemengde aanbiedinge in 2021
Die 2021 Toyota US Woordfees in Stellenbosch word aanstaande jaar vir die eerste keer in die lente (17 tot 24 September) aangebied.
Die Woordfees-organiseerders het verskeie moontlikhede ondersoek om die fees na óf Februarie óf April te skuif. Daar is egter daarteen besluit, onder meer weens die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie meebring en die moontlikheid dat Covid-19-protokolle bywoningsyfers kan beperk.
Matriekuitslae vir 2020 word eers teen die einde van Februarie 2021 verwag en die begin van die universiteit se akademiese jaar moet dus ook aanskuif. Weens die veel later registrasie en verwelkoming van nuwe studente is dit daarom onmoontlik om die fees van tot 5 tot 14 Maart 2021 aan te bied.
Die fees gaan wel vroeër in die jaar aktiwiteite gerig op die Woordfeesgehoor aanbied, met ’n fokus op die ondersteuning van kunstenaars en die skep van nuwe blootstelling vir borge. Hierdie aanbiedings sal sowel aanlyn as tradisionele opvoerings insluit. Covid-19-protokolle sal geld vir die tradisionele opvoerings.
Volgens Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW-projek, is dit te vroeg om te voorspel of hierdie ’n eenmalige skuif vir 2021 sal wees en of die hele fees permanent na die tweede helfte van die jaar sal skuif. “Die Woordfees funksioneer nie in isolasie van ander feeste nie en te midde van al die uitdagings wat die kunste-omgewing in die gesig staar, moet ons nou in belang van die groter bedryf optree. Dit vra vir ’n ingesteldheid wat ondanks onsekerheid gerig is op volhoubaarheid en innoverende oplossings.
“Die feeste het ook meer as ooit te vore ’n verantwoordelikheid om inkomste-geleenthede vir kunstenaars te skep. Terselfdertyd is ons daartoe verbind om vir ons borge 'n goeie opbrengs op beleggings te verseker en, waar moontlik, ons deel te doen om die plaaslike ekonomie te stimuleer.”
Bykomende bronne
Steve Kretzman, 29 Mei 2020, “Covid-19: Only 488 of over 5,000 artists who applied for relief were paid”, https://www.groundup.org.za/article/covid-19-only-488-4512-artists-who-applied-relief-were-paid/.
Toyota US Woordfees, 2020, “Die 2021 Toyota US Woordfees skuif na September”, https://www.woordfees.co.za/nuus/die-2021-toyota-us-woordfees-skuif-na-september/.
Foto krediet: Kilyan Sockalingum | Unsplash