Deur Tania du Toit
Sedert tuisskoling van jou eie kinders vanaf 1996 reeds wettig in Suid-Afrika gedoen mag word, bly die onderwerp kontroversieel. Waarom dan? Ouers was deur die eeue heen hulle eie kinders se primêre versorgers en onderrigters totdat hulle (dalk) later sou skoolgaan. In 'n maatskaplike bestel waarin vryhede, regte en aanspraak op demokrasie toeneem en voorop staan, behoort hierdie debat al vergete te wees. Maar hoe staan dié saak tans in Suid-Afrika?
Tuisskolende ouers se ekwilibrium is einde 2017 omgedop met die voorgestelde wysigings aan die wetsontwerp (van 1996) vir basiese onderwys. Dit hou onheilspellende bepalings voor vir gesinne wat hierdie keuse uitoefen, selfs tronkstraf van tot ses jaar vir oortreders. Uiteraard was daar 'n hewige reaksie vanuit vele oorde, veral vanuit tuisskoolgeledere. Met rede. Hoe die regsproses gaan verloop, sal ons moet sien. Die saak sal ongetwyfeld in die hof beland indien die voorgestelde wysigings aan die wetgewing deur die parlement bekragtig word ─ volg volledigheidshalwe die skakels hierna.
Ongeag wat met die wetsontwerp gebeur, is dit 'n gegewe dat tuisskoling toeneem onder alle bevolkings-, taal-, inkomste- en godsdiensgroepe in Suid-Afrika. Elke gesin het 'n unieke motivering vir hulle besluit. Tuisskoling verg buitengewoon harde werk en toewyding en ouers neem daardie besluit nie ligtelik nie. Dit is werklik baie makliker om gewoonweg jou kinders staat- of privaatskool toe te stuur.
Die ironie is dat heelwat Suid-Afrikaanse ouers reeds deur ekstra of steunklasse aan 'n verskuilde vorm van tuisskoling deelneem. Toenemende getalle leerders uit staatskole kan gewoon nie hulle doelwitte (slaagpunt en/of prestasie) bereik sonder ekstra studie- en steunklasse nie. Daar is geweldig baie redes waarom leerders uit geïnstitusionaliseerde skole steeds bykomende onderrig nodig het en ten duurste daarvoor betaal. Daar is ongetwyfeld gebreke en kwellings in staat- en privaatskole, anders sou daar nie soveel behoefte vir steunklasse en tutoriale bystand bestaan het nie.
Navrae by 'n aantal tuisskolende en voornemende tuisskolende ouers (wat om verstaanbare redes nie geïdentifiseer wil word nie weens die wetsontwerptydbom), toon dat hulle geensins afgeskrik voel deur die haas onverskuilde intimidasieboodskap wat die voorgestelde wetswysiging dra nie. Waarskynlik is die hoofdoel van hierdie voorgenome wysiging om as afskrikmiddel te dien. Dog, ouers wat reeds besef het waarom hulle wil, moet en/of gaan tuisskool, se motivering kom nie sommer oornag om 'n modegier of tendens te volg nie. Dit is juis ouers wat buitengewoon besorg is oor die gehalte van die opvoeding en die indoktrinering waaraan hulle kinders blootgestel word. Daar is ook ander keuses, naamlik wat vir 'n spesifieke kind die beste sal werk, wat hier ter sprake is, asook moedertaalonderrig. Die deursnee tuisskolende ouers is ingelig en sal berge versit om hulle kinders die beste te gee volgens hulle oordeel. En tot op hede is die (ge)reg ook aan hulle kant.
Akademiese navorsing (plaaslik en internasionaal) bevestig onweerlegbaar dat tuisgeskooldes by verre nie ingedoen word nie (dis bloot 'n persepsie), inteendeel. Boonop verg dit beslis moed om die tuisskoolhoed op te sit. Dit blyk dat tuisskoolouers wat met oortuiging dié moeiliker roete volg, dit met groot genoegdoening sal en gaan voortsit.
Bronne
Huisgenoot. “Alles wat jy moet weet oor tuisonderrig”: https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Nuus/alles-wat-jy-moet-weet-oor-tuisonderrig-20170528
Karin Coetzee Wiskundesentrum. “Waarom addisionele wiskundeklasse?”: http://www.karincoetzeewisk.co.za/
Maroela Media. 8 November 2017. Dierdré Bester-meestersgraadverhandeling (Unisa 2009) oor tuisskoling as agtergrond. “Tuisonderrig laat jou kind se natuurlike talente blom”: https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/ouerskap/tuisonderrig-laat-jou-kind-se-natuurlike-talente-blom-2/
Maroela Media. “Tuisonderrig: Ja of Nee”: https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/ouerskap/tuisonderrig-ja-of-nee/
Moria Tuisskool. “Christelik. Afrikaans. Hoë standaard”: http://www.moriatuisskool.co.za/
Netwerk24. “Ekstra klasse resep vir skool se sukses”: https://www.netwerk24.com/ZA/Tygerburger/Nuus/ekstra-klasse-resep-vir-skool-se-sukses-20180116-2
Parent24. “Are you a Home-schooling Parent? These proposed Policy Changes impact you and your Pocket directly”: https://www.parent24.com/Learn/Primary-school/opinion-are-you-a-home-schooling-parent-these-proposed-policy-changes-impact-you-and-your-pocket-directly-20180207
SkillUp Tutors. “Find and hire the Perfect Tutor”: https://www.skilluptutors.com/?utm_source=google&utm_medium=cpc&utm_campaign=%7Bskillup_search_brand%7D&utm_content=%7Bskillup_brand%7D&utm_term=skill%20up&gclid=EAIaIQobChMI5pjWoJen3QIVrrvtCh1BoQ5AEAAYASAAEgKT4_D_BwE
Youth Village. SA’s Youth Portal. “10 Institutions offering extra Lessons for High School Students”: https://www.youthvillage.co.za/2014/09/10-institutions-offering-extra-lessons-high-school-students/
Youtube. SA Homeschoolers. 17 Augustus 2018. “Radio Interview with Rushka Johnson of ECHSA on Radio Kingfisher”: https://www.youtube.com/watch?v=m5yF76fx_b4
Youtube. SA Homeschoolers. 9 Augustus 2018. “Why Parents know what is the best for their child (Interview with US Researcher on homeschooling, international specialist on this subject, Dr. Brian Ray)”: https://www.youtube.com/watch?v=u9ksHxlE4mI
Youtube. SA Homeschoolers. 10 Julie 2018. “New Home Education Policy for South Africa”: https://www.youtube.com/watch?v=7KSNZvJnY3s
Youtube. SA Homeschoolers. 29 Mei 2017. “Lesufi on Home Education”: https://www.youtube.com/watch?v=_vgNcVtK9os
Youtube. SA Homeschoolers. “Homeschooling in Africa”: https://www.youtube.com/user/sahomeschoolers