Deur dr. Eugene Brink
Verkope is een van die mees stresvolle werke, veral nou met die ekonomie wat deur die Covid-19-pandemie verwoes is.
Verbruikervertroue lyk droewig, werkloosheid is op die hoogste vlak ooit, tegnologie is besig om die aard van die verkopebedryf te verander, en kompetisie is kwaai. Die eindresultaat is stres.
“Verkope is een van die mees stresvolle beroepe,” sê Carrie Morgan, eienares van Contemsa, 'n verkopebemagtigingswebblad wat BtotB-verkopepatrone en -instrumente verkoop. “Jy is elke dag in die voorste linie waar jy met kliëntekwessies te doen het, produkte verkoop, onderhandel, voorleggings doen en voorstelle voorlê – en dit terwyl jy die bekommernisse, besware, besorgdheid en behoeftes van jou kliënte, kollegas, verkoopsbestuurders en ander belanghebbendes met mekaar balanseer. Dit is 'n baie unieke werk met unieke stressors.”
Verkoopsmense het dus tegnieke nodig, sommige uniek en ander nie so uniek nie, om hul stresvlakke te bestuur. Hier is 'n kort lysie:
Allan Lorraine, verkoopdeskundige en outeur, sê dit is maklik vir enigiemand om oor 'n frustrerende situasie opgewerk te raak, maar mens moet weet wanneer om te aanvaar en te laat los. “Verkoopsmense weet hoe stresvol dit kan wees om so hard aan 'n verkoopsaanbieding te werk, net vir die potensiële kliënt om na 'n mededinger te gaan. Soms het jy van die begin af nooit oor die uitkomste van hierdie soort situasies beheer gehad nie. Soms is dit veral vir 'n verkoopspersoon 'n goeie stresverligter om te leer wanneer om dít wat jy nie kan beheer nie te laat los.”
Dan Sincavage, hoofstrategiebeampte by Tenfold, sê benewens aanvaarding moet verkoopsmense ook verander, vermy en aanpas. Soms is die belowendste strategie om die situasie te verander, soos deur bloot vroeër te loop om vir 'n aanbiedingsvergadering voor te berei. Soms is dit die beste om 'n potensieel stresvolle situasie te vermy – mits dit net beperkte of geen gevolge vir jou of die maatskappy inhou. Met ander woorde, moenie jou waardevolle energie vermors nie. Aanpassing beteken dat jy verder moet kyk en wonder of 'n blaps oor 'n maand of 'n jaar werklik nog sal saak maak.
Alles is beter in 'n groep – selfs stres. Kry jou medetroepe (of jou gunsteling-een) bymekaar en bespreek jou stres openlik met hulle. Hulle is in elk geval in dieselfde bootjie as jy. “As jy gestres voel in jou verkoperol is jou spanmaats waarskynlik ook gestres. Moenie skaam wees om die gesprek met kollegas aan te voor nie want dit kan waarskynlik 'n ander kollega help wat gesukkel het met iets en te bang was om self daaroor te praat,” sê Morgan.
Sincavage sê jou fisiese welstand is 'n kardinale faktor in die hantering van werkplekstres. “Basies kan gesonde kos, genoeg slaap en oefening ver gaan om jou verfris en lewenslustig te laat voel.”
Hy gee 'n paar goeie wenke. Stap kafeteria toe in plaas daarvan om die kos te laat aflewer. Beperk jou koffie-inname. Kry 7-8 uur slaap per nag en beperk jou blootstelling aan kunsmatige lig.
Niemand kan in beheer voel as sy omgewing chaoties is nie. Verbeter jou werkruimte deur jou lessenaar op te ruim en jou werkvloei te organiseer, rommel op te ruim en moet-doen-lysies op te stel (of sommer net jou taaklys te dagboek). Besluit ook watter dele van jou werk jou die meeste stres (soos om potensiële kliënte onvoorbereid te bel) en probeer om dit soggens te doen as jy vars en uitgerus is.
As jy nie tyd af neem nie, sal jou liggaam jou dwing om dit te doen. Weet wanneer jou beker oorloop en neem genoeg tyd af om jouself te herlaai en fokus te herwin. Jy sal vind dat jy met meer vertroue terugkom en boonop met 'n kreatiewe streep daarby.
Afgesien hiervan, sal jy moet tyd maak deur na musiek te luister of tyd in die natuur deur te bring. Ontspanning is nie dieselfde as luiheid nie. Dit is 'n noodsaaklike stap wat doelbewus gedoen moet word om dinge te balanseer.
Laastens is dit benewens gereelde ontspanning raadsaam om iets te vind om in jou vry tyd te doen wat nie met jou verkoopwerk verband hou nie. Dit kan wees om modelkarretjies te bou, houtwerk te doen, ens. Dit sal jou gemoed ontstres en jou herlaai en betrokke laat voel.
Bronne
Allan Lorraine, 15 Mei 2019, “How To Manage Stress as a Salesperson”, https://thriveglobal.com/stories/how-to-manage-stress-as-a-salesperson/.
Carrie Morgan, 20 Augustus 2020, “7 Effective Ways to Deal With Unrelenting Sales Stress”, https://learn.g2.com/sales-stress.
Dan Sincavage, 2021, “7 Effective Stress-Busting Techniques for Salespeople”, https://www.tenfold.com/sales-performance/stress-busting-techniques-for-salespeople.
Foto krediet: Campaign Creators | Unsplash