Deur Marli Naidoo
Moelike kliënte is deel van hierdie professie. Mense kontak gewoonlik 'n prokureur wanneer hulle deur moeilike tye gaan of probleme ondervind waarmee hulle regshulp nodig het. Dit is dus te verstane dat sommige kliënte emosioneel en gestres sal wees.
'n Prokureur hoef nie almal wat by sy deur inloop as kliënt te aanvaar nie. Vra die kliënt uit oor vorige prokureurs wat hy gebruik het, hoekom hy nie meer van hulle dienste gebruik maak nie, wat hy van sy regsadviseur verwag, hoe hy verkies om te kommunikeer, ens. Daarna kan jy besluit of jy kans sien om 'n pad met die persoon te stap. Dit sal nie verseker dat alles vorentoe voor die wind sal gaan nie, maar dit kan probleemsituasies verminder.
Wees bereid om te erken wanneer jy 'n fout gemaak het. Indien die kliënt jou egter vals beskuldig, is dit beter dat jy nie om verskoning vra nie maar 'n regstelling maak. Noem aan hom dat sy beskuldiging nie waar is nie.
Maak seker dat jou kliënte van die begin af weet hoe jy verkies om te werk: hoe verkies jy om te kommunikeer, hoeveel en waarvoor jy fooie hef, wat jy van hom verwag, en hoeveel tyd sekere prosesse moontlik in beslag sal neem. Jy weet nie wat in die kliënt se kop aangaan nie. Hy kan dalk aanneem dat hy vir 'n halfuur op die foon met jou kan gesels sonder dat hy daarvoor hoef te betaal. Maak ook seker dat hy weet om jou nie na ure te bel of jou personeel sleg te behandel nie.
Wees konsekwent. Die reëls moet nie om elke hoek en draai verander kan word nie.
Hou die kommunikasie gefokus op die gewenste uitkoms en die tydlyn wat julle daar gaan bring. Moenie vasval in ure se praatjies oor onnodige punte nie.
Moenie familie verteenwoordig nie. Daar is 'n groot kans dat hulle spesiale behandeling sal wil hê en die verhouding kan skade ly.
Verstaan waarom 'n kliënt moeilik is. Hy ly moontlik aan 'n geestesongesteldheid of ernstige mediese toestand. Hy voel dalk oorweldig, rou oor 'n verlies, is bang vir die regsproses, en haal sy negatiewe emosies op jou uit. Sodra jy 'n idee het wat 'n kliënt moeilik maak, kan jy 'n plan maak om dit te hanteer.
Onthou dat jy met mense werk, en behandel jou kliënte dus met empatie en met opregte belangstelling. Jy hoef nie 'n vloerlap te word om dit te bewerkstellig nie. Balans is egter belangrik, en sal jou help om lewenslange lojaliteit van gelukkige kliënte te bewerkstellig.
Bronne
Mediate: https://www.mediate.com/articles/hamparyan-5-tips.cfm
Law Ware: https://lawware.co.uk/difficult-legal-clients/
Above the Law: https://abovethelaw.com/career-files/taming-the-beast-how-to-manage-difficult-clients/?rf=1