Deur Nico Strydom
Maatskaplike werkers werk oor die algemeen in uitdagende omstandighede wat fisiek en emosioneel uitputtend is en dit is dus noodsaaklik dat hulle selfsorg toepas en na hul eie welstand omsien.
Maatskaplike werkers verskaf dienste in die voorste linie en moet meestal hul eie welstand opsy skuif om na ander om te sien. Dit kan egter lei tot uitbranding wat gepaardgaan met moedeloosheid, ‘n verlies aan entoesiasme, verhoogde geïrriteerdheid, sukkel om te fokus en ‘n afname in energie of produktiwiteit.
Maatskaplike werkers word verder ook op ‘n daaglikse basis aan tweedehandse trauma blootgestel wat onder meer kan lei tot gevoelens van hopeloosheid, chroniese uitputting, paranoia, skuldgevoelens, vrees, woede en sinisme.
Diegene wat in posisies is waar hulle ander moet help, ignoreer dikwels hul eie welstand en sien nie die tekens wat met uitbranding of tweedehandse trauma gepaardgaan raak nie. Dit is baie belangrik om wel uit te kyk vir tekens dat daar probleme is en om die nodige selfsorg toe te pas.
Hier is ‘n paar selfsorgstrategieë wat maatskaplike werkers kan toepas:
Dit is belangrik om grense daar te stel ten einde jou tyd beter te bestuur en om ‘n werk-lewe-balans te handhaaf.
Wanneer dinge moeilik raak, is dit nodig om dit te erken en op te let na waarskuwingstekens. As maatskaplike werker word jy daagliks met ander se trauma gekonfronteer en kan dit baie maklik deel van jou lewe raak. Jy herleef dalk die trauma of kan nie ophou daaraan dink nie. Kry ‘n uitlaatklep om te verseker dat jy nie oorweldig word nie. Daar is niks fout daarmee om te huil oor wat ander mense beleef het of hul omstandighede nie.
Maak tyd vir jouself. Doen gereeld dinge wat vir jou lekker is en wat jou help om stres te hanteer. Jy kan meditasie of joga oorweeg of deel word van ‘n ondersteuningsgroep waar jy jou ervarings kan deel en mense tyd maak om na jou te luister. ‘n Dagboek kan jou help om jou gevoelens te verwoord en ook as ‘n uitlaatklep dien.
Eet gesond, oefen gereeld en kry genoeg slaap. Goeie gesondheid is belangrik om ‘n druk skedule te onderhou en wanneer jy ‘n gesonde leefstyl handhaaf, sal dit jou ook help om minder vatbaar te wees vir uitbranding en ander gesondheidstoestande.
Kry hulp indien nodig. Moenie bang wees om vir hulp te vra nie. Jy is ook net ‘n mens met gevoelens soos ander en daar gaan tye kom wanneer jy oorweldig voel en jy ook hulp gaan nodig hê.
Bronne:
College of Social Work: https://onlinemsw.fsu.edu/blog/social-worker-burnout
Social Work Blog: http://www.socialworkblog.org/practice-and-professional-development/2020/04/the-art-of-self-care-for-social-workers/
The New Social Worker: https://www.socialworker.com/feature-articles/practice/mindfulness-10-lessons-in-self-care-for-social-workers/
Noodle: https://www.noodle.com/articles/5-signs-of-social-work-burnout
Foto krediet: Sora Shimazaki | Pexels