Deur Nico Strydom
Die openbareskakelwese-bedryf in Suid-Afrika word tans nie amptelik gereguleer nie maar daar word uit talle oorde versoek dat dit wel gedoen moet word.
Hernude oproepe vir die regulering van die openbareskakelwese- bedryf het opnuut opgeklink na die Bell Pottinger-sage waar daar bevind is dat dié organisasie 'n veldtog in Suid-Afrika gedryf het om rassespanning aan te blaas. Bell Pottinger is later uit Brittanje se vereniging vir skakel- en kommunikasiemaatskappye geskop.
In Suid-Afrika is daar die Suid-Afrikaanse Instituut vir Openbare Betrekkinge, oftewel Prisa. Daar is egter geen wetlike verpligting vir professionele skakel- of kommunikasiepraktisyns om lid van Prisa te wees nie. Prisa is een van die belanghebbendes wat vra dat die bedryf gereguleer word.
Talle skakelwese- of kommunikasieondernemings in Suid-Afrika behoort egter aan Prisa en moet dan aan dié organisasie se etiese kode en professionele standaarde vir die bedryf voldoen.
Prisa se etiese kode vereis onder meer 'n verbintenis tot “etiese praktyke, die behoud van openbare vertroue en die strewe na uitnemendheid in kommunikasie met kragtige standaarde van prestasie, professionaliteit en etiese gedrag”.
Indien 'n individu of 'n maatskappy wat aan Prisa behoort hierdie kode oortree of die bedryf in onguns bring, kan die individu of maatskappy uit die organisasie geskors of verbied word.
Kommunikasiepraktisyns se werk sluit onder meer in om openbare betrekkinge te bestuur, inligting beskikbaar te maak, persverklarings uit te reik en mediaversoeke te oorweeg, en om sosiale media en/of advertensies vir 'n organisasie te hanteer.
'n Kommunikasiepraktisyn werk ook saam met die meeste van 'n organisasie se rolspelers, naamlik bestuur, teikenmarkte, beleggers en verskaffers en die media en het 'n verantwoordelikheid om 'n positiewe reputasie vir 'n organisasie te help bou.
Om die positiewe reputasie te bou en te beskerm, kan egter moeilik raak indien jy altyd die waarheid wil dien. As kommunikasiepraktisyn sal jy nooit onetiese gedrag goedpraat nie maar daar is 'n fyn lyn en dit verg verskeie eienskappe om seker te maak dat jy nie self oor die lyn trap nie.
Kommunikasiepraktisyns moet altyd eties probeer optree, die publiek se vertroue probeer behou, die bedryf respekteer en dit nie in oneer bring nie, en akkuraat en met integriteit optree.
Die argument wat voorgehou word vir wetlike regulering, is dat kommunikasiepraktisyns dan verplig sal wees om minstens die minimum kwalifikasies te hê en dat etiese optrede afgedwing sal kan word.
Bronne
Prisa: https://www.prisa.co.za/
PR Expert: http://prexpert.co.za/2017/12/04/pr-industry-professionals-must-stand-integrity/
The Media Online: https://themediaonline.co.za/2017/09/potential-formal-regulation-of-sa-pr-industry-on-the-way/
Foto krediet: