Deur Reon Janse van Rensburg
Solidariteit se Regsgilde het gewaarsku dat die planne van die Regspraktisynsraad met die konsepkode vir die regsektor, wat tans onder bespreking is, bepalings bevat wat regspraktyke moontlik kan lamlê.
Die Regspraktisynsraad stel met die nuwe konsepkode voor dat elke prokureur in 'n regspraktyk wat jaarliks 'n inkomste van tussen R3 miljoen en R15 miljoen genereer, 200 uur se verpligte pro bono-werk per jaar verrig om sy goeie reputasie by die Regspraktisynsraad in stand te behou.
Daar word verder ook voorgestel dat praktyke wat jaarliks meer as R15 miljoen genereer, jaarliks 500 uur se pro bono-werk moet verrig, terwyl daar van advokate in praktyke wat in die R5 miljoen-inkomstekategorie val, 150 uur se pro bono werk in 'n tydperk van 'n jaar verwag sal word.
Die Regspraktisynsraad het voorheen van prokureurs en advokate 24 uur se verpligte pro bono-werk in 'n jaar verwag.
Volgens IOL het sommige prokureurs en advokate daarop gewys dat 'n tipiese maand uit ongeveer 22 werksdae bestaan en dat die voorstel van die Regspraktisynsraad om drie van daardie dae daaraan te moet bestee om gratis dienste te lewer nie prakties of ekonomies volhoubaar is nie.
Volgens Henru Krüger, sektorhoof vir Solidariteit se professionele gildes, sal dit veral vir kleiner praktyke katastrofies wees omdat hulle nie die kapasiteit het om soveel tyd aan pro bono-werk te bestee en steeds hul praktyke suksesvol te bedryf nie. Hy wys daarop dat dit eenpersoonpraktyke finansieel sal ruïneer.
Die Regspraktisynsraad is 'n regulerende liggaam met jurisdiksie oor regspraktisyns en is veronderstel om te verseker dat die integriteit en die status van die beroep gehandhaaf word en dat die toekoms van die beroep beskerm word.
Solidariteit se Regsgilde is egter bekommerd oor dié raad se voornemens en maan die raad om te waak teen besluite wat nadelige gevolge vir die beroep sal inhou.
“Dit is duidelik uit die grootskaalse ongelukkigheid oor die pro bono-vereistes onder almal in die regsektor dat die Regspraktisynsraad nie behoorlik met alle rolspelers gekonsulteer het nie. Die pro bono-vereistes werk ook diskriminerend in teen enkel-praktisyns aangesien daar van elkeen van hulle vereis word om 200 uur se pro bono-werk te verrig, terwyl regsfirmas slegs 500 uur in totaal hoef te verrig.” – Henru Krüger, sektorhoof vir Solidariteit se professionele gildes
Solidariteit se Regsgilde het reeds sy kommentaar op die voorgestelde SEB-kodes en die uitbreiding van die pro bono-beleid vir die regsberoep ingedien.
Die gilde staan die voorgestelde kodes wat SEB-regulasies op privaat praktyke wil afdwing teen en sal tot verdere stappe oorgaan indien die Regspraktisynsraad die voorstel oor pro bono-werk goedkeur.
Bronne:
Lawyers opposed to extension of pro bono policy – https://www.iol.co.za/sunday-tribune/news/lawyers-opposed-to-extension-of-pro-bono-policy-a918f862-01bc-4295-b097-1250c55c8fed
Regsgilde dien kommentaar teen SEB-oorname in regsberoep – https://solidariteit.co.za/regsgilde-dien-kommentaar-teen-seb-oorname-in-regsberoep/
Foto krediet: Sora Shimazaki | Pexels