Deur Reon Janse van Rensburg
Tongaat Hulett
Jenitha John het vanaf 2007 in Tongaat Hulett se direksie gedien en het in 2018 die posisie van voorsitter van die onderneming se oudit- en nakomingskomitee beklee toe Tongaat Hulett in 'n boekhouerskandaal betrokke was.
Daar is bevind dat die onderneming sy bates met R4,5 miljard oorskat het.
Volgens 'n PwC-verslag is tien lede van die uitvoerende bestuur by die skandaal betrek.
Die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba)
In April 2020 is John as die uitvoerende hoof van die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) aangestel. Ten spyte van die PwC-verslag het John die leisels in Junie oorgeneem. Hierdie aanstelling het egter met groot omstredenheid gepaard gegaan, veral in die lig van John se vorige rol as hoof van die ouditkomitee by Tongaat Hulett wie se finansiële state hersien moes word. Dit het groot welvaartverwoesting vir sy aandeelhouers tot gevolg gehad.
John het op papier 'n indrukwekkende loopbaan opgebou. Volgens berigte praat haar vorige kollegas met groot lof van haar en dit is veral haar werksetiek wat hoog geag word.
Verskeie burgerlike organisasies, insluitend Solidariteit, het egter John se aanstelling bevraagteken.
Die feit dat John as hoof van Irba haar in 'n posisie bevind waar konflik van belange kan plaasvind omdat sy toesig sou moes hou oor 'n ondersoek na 'n maatskappy waarin sy 'n senior uitvoerende beampte was, het nie onopgemerk verbygegaan nie en dit het geregverdigde kommer laat ontstaan.
Solidariteit se Gilde vir Finansiële Beroepslui het reeds verlede jaar hul kommer uitgespreek oor die “reputasiebagasie” wat sy saamdra, en die gilde is veral bekommerd oor die impak wat haar aanstelling op die ouditprofessie sal hê, en meer spesifiek, hoe Irba in 'n posisie sal wees om maatskappye vir oortredings tot verantwoording te roep indien soortgelyke aantygings in eie geledere nie eers erken en in die kollig geplaas word nie.
Irba tree op as die waghond wat ouditskandale en -mislukkings in korporatiewe Suid-Afrika moet ondersoek. Dit is 'n organisasie wat kragdadig moet optree in die oorlog teen bedrieglike aktiwiteite, en dit moet sy verpligting kan nakom om doeltreffende stappe in te stel teen maatskappye wat nie die wet nakom nie.
Minister van Finansies, Tito Mboweni
Die minister van finansies, Tito Mboweni, het Irba verlede jaar opdrag gegee om dringende kwessies te takel, soos om die voorsitter en ondervoorsitter van die direksie te verkies (ingevolge artikel 14 van die Wet op die Ouditprofessie, Nr. 26 van 2005), om die proses waarvolgens die huidige uitvoerende hoof aangestel is, te hersien, en om 'n beter werksverhouding tussen Irba, die ministerie van finansies en die Nasionale Tesourie te verseker ten einde die etiese waardes van die rekeningkundige en ouditprofessie te herstel.
Die probleem was egter dat 'n raad eers aangestel moes word. Dit sou ook die einste raad wees wat op hul eerste dag en as hul eerste taak oor die toekoms van John as uitvoerende hoof sou moes besluit. Die termyn van ses van die vorige raadslede het reeds op 9 Mei 2020 verstryk, en volgens wet moet die raad uit minimum ses en maksimum tien nie-uitvoerende lede bestaan wat deur die minister aangewys moet word. 'n Meerderheid lede van Irba se raad verteenwoordig 'n kworum.
Op 26 Junie 2020 het die minister van finansies, Tito Mboweni, aangekondig dat 'n nuwe raad aangestel is.
Die optimisme en geesdrif waarmee die nuwe raad begroet is, was egter van korte duur nadat berigte daarop begin dui het dat raadslede van mekaar verskil en dat daar gemengde gevoelens is oor die aanstelling van John. Drie van die persone wat in daardie stadium in die raad gedien het, was vir hul tweede termyn in die raad aangestel en was direk betrokke by die aanstelling van John.
Hoewel daar steeds onsekerheid bestaan oor die spesifieke redes, het 'n hele paar van die raadslede in die tussentyd bedank.
Mboweni, moes weer ingryp om die situasie te red. Hy het op 26 Januarie vanjaar met die Irba-raadslede vergader voordat hy besluit het om al die raadslede af te dank en die Irba-raad ingevolge artikel 12(5) van die Wet op die Ouditprofessie te ontbind.
Daily Maverick berig dat Mboweni die besluit moes neem omdat die raad met bepaalde uitdagings ten opsigte van die sy funksionering te kampe gehad het. Mboweni het wel nie die presiese uitdagings wat die raad beleef, genoem nie.
Volgens 'n verklaring wat deur die Nasionale Tesourie uitgereik is, het Mboweni vir Nonkululeko Gobodo en Roy Andersen aangestel om waar te neem totdat 'n permanente raad binne die volgende drie maande aangestel sal word.
Bronne:
Solidariteit se finansiële gilde besorg oor aanstelling van ouditwaghond – https://gildes.solidariteit.co.za/solidariteit-se-finansiele-gilde-besorg-oor-aanstelling-van-ouditwaghond/
Irba board divisions were not caused by the incoming CEO – Motala – https://www.moneyweb.co.za/news/south-africa/irba-board-divisions-were-not-caused-by-the-incoming-ceo-motala/
Mboweni dissolves entire Irba board after controversial CEO appointment – https://www.moneyweb.co.za/news/south-africa/mboweni-dissolves-entire-irba-board-after-controversial-ceo-appointment/
Concerns grow about auditor watchdog’s governance as new board is appointed – https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-07-01-concerns-grow-about-auditor-watchdogs-governance-as-new-board-is-appointed/
Mboweni sacks entire Irba board, throwing the audit watchdog into another governance crisis – https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-01-28-mboweni-sacks-entire-irba-board-throwing-the-audit-watchdog-into-another-governance-crisis/